Danie Theron-gedenksuil ook deur diewe geteiken
Beelde word toenemend deur misdadigers geteiken soos onlangs ook op Kerkplein gesien is.
’n Monument wat reeds vir meer as sewe dekades die moed van Danie Theron vereer, het die jongste slagoffer van gewetenlose erfenismisdaad geword. Dit volg kort na die skade vroeër vandeesmaand aan die Kruger-beeldegroep op Kerkplein in Pretoria.
Die koperweerligafleierkabel van die Danie Theron- gedenksuil is afgesteel is, wat dié struktuur onbeskermd teen weerlig laat. Volgens Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sal die herstelwerk aan die gedenknaald langs die N12 naby Fochville nagenoeg R70 000 kos. “Dit behels die vervanging van die kabel met aluminium en die beveiliging van die struktuur teen toekomstige skade.
Die terrein waarop die gedenksuil staan, is in 2003 deur Die Voortrekkers aan die ES geskenk. Sedertdien is die ES verantwoordelik vir die instandhouding en beskerming van die terrein.
Danie Theron-gedenksuil
Die Danie Theron-gedenksuil is in 1950 onthul, sowat 50 meter van die plek waar Theron op 5 Oktober 1900 in Gatsrand gesneuwel het. Hy was die stigter van die Transvaalse Verkenningskorps, beter bekend as die fietskommando, en het bekend gestaan as een van die dapperste en vindingrykste verkenners van die Anglo-Boereoorlog.

Die monument is byna 25 meter hoog en bestaan uit ’n betonuil met ’n kopervlam aan die bokant wat die vryheidsgees van Danie Theron simboliseer. “Dit is ’n onvervangbare erfenisbaken wat al vir 75 jaar as simbool van moed en volharding dien,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.
Volgens Leonie Marais, erfenisspesialis by die Kultuurtuiste, is die weerligafleier destyds aangebring omdat die monument in ’n gebied geleë is wat bekend is vir enorme donderstorms. “Die herstel van die afleier is nie net ’n tegniese noodsaaklikheid nie, maar deel van ons bewaringsroeping.”
“Direkte weerligslae kan krake, afsplintering of selfs totale ineenstorting van brose klip-, baksteen-, hout- of messelwerkmateriaal veroorsaak. Onvervangbare argitektoniese besonderhede of oorspronklike materiale kan vernietig word. Herstelwerk is nie net duur nie; dit vereis vakmanne en tradisionele materiale om die historiese egtheid te bewaar.”

Misdadigers teiken beelde en bakens
“Monumente soos dié vorm deel van ons kollektiewe geheue. Dit is stil getuies van grootse gebeure en mense wat ons kultuur en identiteit gevorm het. Die Danie Theron-gedenksuil herinner ons aan die moed, vernuf en opoffering van ’n man wat sy lewe vir sy mense gegee
het,” sê Brand.
Hy sê verder deelde en bakens loop toenemend onder booswigte deur. Daarom het die ES ’n veldtog van stapel laat loop waarin die publiek aktief tot sigbare erfenisbewaring kan bydra.
Besoek es.org.za/danie-theron-gedenksuil



