AfriForum sit hofstryd teen Ngwathe voort
AfriForum hoop dat sy Artikel 18 (3) aansoek vanjaar nog aangehoor sal word.
Die burgerregte organisasie, AfriForum se dringende Artikel 18 (3) aansoek na die hoooggeregshof in Boemfontein om ’n vroeëre uitspraak teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te laat implementeer, hangende dié munisipaliteit se appèl daarteen, is vandeesweek weens die omvang daarvan van die dringende hofrol verwyder.
Die saak sal nou later aangehoor word sodat die regter in dié saak genoeg tyd gegun kan word om die omvangryke stukke in hierdie saak wat reeds in 2024 begin is, kan bestudeer. Dié besluit volg in reaksie op die deurslaggewende oorwinning wat AfriForum op 20 Junie vanjaar in die Bloemfonteinse Hooggeregshof behaal het waartydens regter J.P. Daffue bevind het dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie.
Hy het daarom as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp. Die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is op 19 Augustus van die hand gewys.
Die munisipaliteit het hom egter intussen na die Hoogste Hof van Appèl gewend. AfriForum het derhalwe ’n dringende aansoek in terme van Artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 gebring om te vra dat regter Daffue se hofbevel intussen geïmplementeer kan word.
AfriForum het Vrydag in ‘n verklaring aangedui dat sy regspan nou weer die aansoek op die hofrol sal laat plaas. Hoewel dit nou nie meer op ’n dringende grondslag sal geskied nie, hoop AfriForum dat die aansoek vanjaar nog aangehoor sal word. Indien die aansoek slaag, sal provinsiale ingryping geïmplementeer kan word ongeag die appélaansoekproses by die Hoogste Hof van Appèl – ’n proses wat etlike jare kan neem om afgehandel te word.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is AfriForum en sy regspan optimisties dat ’n gunstige uitspraak in sy artikel 18(3)-aansoek sal volg. “Die besluit om nie die aangeleentheid op ’n dringende basis aan te hoor nie, wys dat regter Sharon Chesiwe die erns, omvang en impak van hierdie saak gewigtig genoeg ag om dit indringend te ondersoek,” het Pretorius gesê en bygevoeg dat dit nie ‘n oorwinning vir die munisipaliteit beteken nie.



