Besin en beplan vroegtydig vir jou aftrede
Dit is belangrik dat jy voor jou aftredre jou finansies en behuisiing vir wanneer jy gaan aftree beplan.
Aftrede is nie net ‘n nuwe fase nie, maar kan ook skielike ontnugterings en uitdagings meebring. Daarom is dit belangrik om jouself voor te berei op aftrede.
In haar deernisvolle praatjie het Darien Oosthuizen praktiese wenke gedeel met vroue van die plaaslike Vrystaat Landbou Unie (VLU) tak, oor hoe jy jou kan voorberei vir aftrede, en waaraan jy moet dink wanneer jy voorsiening maak vir aftrede.
Sy het daaraan herinner dat dit belangrik is om te dink wat jy gaan doen tydens jou aftrede, en of jy genoeg finansies het vir jou aftrede.
Wees voorbereid op die ontnugteringsfase, dat jy moet vrede maak met aftrede, en gevoelens soos eensaamheid, verveeldheid, of selfs ‘n gevoel
van nutteloosheid, wanneer jy skielik nie meer ‘n werksroetine het nie, en alles nie meer om jou werk draai nie.
Bly besig
Haar raad was – kyk na wat jou belangstellings en passie is. Vind ‘n plek of organisasie om by in te skakel, en begin ‘n ander roetine.
Hou jouself besig. Doen dinge wat vir jou lekker was en wat jy nie kon doen toe jy gewerk het nie. Bly uit jou kokon, en moenie stagneer nie.
Doen breinoefeninge en sorg dat jy besig bly. Maak jou arms oop en raak betrokke, was haar raad. Sy het ook benadruk dat tyd kosbaar is en jy die beste daarvan moet maak.
Finansies
Haar raad rondom finansies was dat jy reeds die dag wanneer jy begin werk, moet begin voorsiening maak vir jou aftrede. Sorg ook dat jy ‘n
goeie mediese fonds het. Kies versigtig, maar voldoende.
Behuising
Laastens het sy ook daaraan herinner dat jy sal moet voorsiening maak vir behuising en onderhoudskoste vir wanneer jy aftree. Om by kinders te
bly en hul huis te verdeel is goedkoop, maar openhartige gesprekke, sou jy die opsie kies, is vooraf nodig om seker te maak wat jou kinders van jou sal verwag. Jy sal dalk keuses rondom aftreeoorde moet maak, of as jy kies om iewers by die see of elders af tree, is dit nodig om te besin hoe prakties dit sal wees en hoe gereeld jy byvoorbeeld jou familie sal kan sien sou jy ver van hul af wegtrek.
Daar is nog net een vergadering vir die jaar oor vir lede van Parys VLU, en wag ‘n interessante program vir 2026.
Kom sluit aan by die dinamiese groep vroue wat maandeliks meer te wete kom van ‘n verskeidenheid van onderwerpe.
Jy hoef ook nie lid van die VLU te wees om die byeenkomste by te woon nie.
Vir navrae skakel Annatjie Dreyer by 082 464 0204, of Bernadet van n der Ende by 082 474 0304.



