Ngwathe wil konstitusionele hof toe oor administrasie-hofstryd
Die diensleweringshofstryd tussen AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het reeds in Desember 2024 begin en is steeds nie afgehandel nie.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit wil hom tot die konstitusionele hof wend nadat ‘n petisie tot die Hoogste Hof van Appèl teen ‘n vroeëre hooggeregshofbeslissing vir provinsiale ingryping by dié munisipaliteit, ook misluk het.
Die hofstryd tussen die burgerregte organisasie AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor onder meer gebrekkige dienslewering aan inwoners van die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville het reeds in Desember 2024 begin.
Regter J.P Daffue het daarna op 20 Junie in ‘n opspraakwekkende uitspraak in die Vrystaatse Hoë Hof hof in die guns van AfriForum beslis toe daar as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel is dat die munisipale raad ontbind moet word, en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.
Maande later kon die bevel nog nie tot uitvoer gebring word nie nadat die Ngwathe munisipaliteit, die Ngwathe raad en die munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamahe in Augustus aansoek om verlof tot appèl tot die hooggeregshof gerig het. Die aansoek is met ‘n kostebevel teen Ngwathe van die hand gesit.
Daarna is petisie tot die Appèlhof gerig, maar is bevind dat daar “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl is nie, en dat daar geen ander oortuigende rede is waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie – weereens met ‘n kostebevel teen Ngwathe, is vandeesweek bekendgemaak.
AfriForum se aansoek wat vroeër vandeesmaand in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2013 gebring is om te vra dat regter J.P. Daffue se oorspronklike uitspraak teen die munisipaliteit geïmplementeer word hangende die munisipaliteit se appèl daarteen sal nou op 4 Desember aangehoor word.
Sou die aansoek slaag beteken dit dat regter Daffue se beslissing in werking gestel moet word. Sou die aansoek egter misluk kan die appèlproses in die lig van die jongste verwikkelinge nog etlike jare duur.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê dis onrusbarend dat die munisipaliteit nou van voorneme is om hom tot die Konstitusionele Hof te wend om ’n gebalanseerde hofuitspraak deur die Bloemfonteinse Hooggeregshof te probeer appelleer.
Dit is onseker wat die totale hofkoste nou reeds beloop.. AfriForum sê egter in sy verklaring die verkwisting van belastingbetalers se geld aan hofprosesse wat uitsluitlik daarop gemik is om tyd te wen, is kommerwekkend.



