Groot boom het gekantel
Haar roudiens vind 5 November om 11:00 vanuit NG Kerk Vredefort plaas.
SASOLBURG – Sy het alle tradisionele grense verskuif en diep spore in ‘n mansgesentreerde
bedryf geploeg. Tharina Terblanche (74) word nie verniet as ‘n ystervrou in die Vaaldriehoek, maar ook in die gemeenskappe van Parys en Vredefort beskryf waar sy diep spore agterlaat.
Haar skielike afsterwe vandeesweek het ‘n skokgolf deur die Vrystaatse boeregemeenskap gestuur.
Volgens haar broerskind, Constant Claassen, het sy verlede week begin sleg voel. “Sy was
Cormed toe waarna sy na Unitas Hospitaal in Pretoria oorgeplaas is. Sy het Maandag ‘n
hartklepoperasie ondergaan, maar dit was nie suksesvol nie.”
Tharina Boerdery het van ‘n “oes” van 19 speenkalwers tot ‘n uitgebreide, saai-, bees- en
hoenderboerdery naby Sasolburg uitgebrei.
Tharina kom uit ‘n boerdery agtergrond en was die enigste dogter van vyf kinders, maar het nie ‘n aks teruggestaan om ‘n landbousakeryk te vestig nie.
Sy het in 1987 begin met 1 200 hektaar grond en sedertdien uitgebrei tot 7 500 hektaar om
voorsiening te maak vir haar duisende beeste, mielielande en hoenderplaas van sowat 50
000 lêhenne.

Tharina was altyd bedrywig en veral trots op haar silo-projek.

Een van haar gunsteling gesegdes was: “‘n hoekpaal is net so sterk soos sy stutte” en daarom het sy haarself altyd met kundige mense omring.
Sy en haar kleinseun, Kerneels se liefde vir Appaloosaperde het Catharina Appaloosa Stud tot stand laat kom.

Benewens haar boerdery is Tharina ook ‘n eiendomsontwikkelaar.
Boonop het sy ‘n looiery besit wat sy intussen aan haar broer verkoop het.
Medelye en boodskappe stroom steeds op sosiale media in en getuig van ‘n formidabele en
geliefde vrou wat ‘n steunpilaar in die samelewing was.



