Local newsNews

Bek-en-klou: Risiko vir beesplase

Die entstof wat deur die staat op indeksplase gegee word, beperk verdere verspreiding deur letsels, en onderdruk moontlike draerstatus.

Met die huidige Bek-en-Klouseer-uitbraak lê die risiko nie by wildsplase nie, maar by beesplase. Daarom is verantwoordelike optrede deur vee-eienaars kritiek, waarsku dr. Bastiaan Fouché, plaaslike veearts wat nou saam met die staat werk in die bekamping van die siekte wat steeds kommer wek in veral die Vrystaat en Noordwes provinsies.

Die afgelope drie weke is gevalle van die siekte ook in Parys, Tumahole en Vredefort bevestig, en is daar steeds ‘n wesenlike bedreiging vir veeboere in die Schoemansdrift en Venterskroon-areas met buurdorpe aan beide die Vrystaat en Noordwes-kant wat gevalle aangemeld het.

Sodra vee-eienaars letsels of simptome van bek-en-klouseer opmerk moet dit dadelik gerapporteer word by jou veearts wat dit onder die staatsveearts se aandag sal bring. Protokol vereis dat jy jou bure in kennis moet stel sou jy letsels of simptome van die siekte by jou vee kry.

Wat is Bek-en-klouseer
* Bek-en-klouseer kom voor by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke.
* Vrektes weens die siekte word in minder as 2% van gevalle gesien.
* Bek-en-klouseer is endemies in die area rondom die Kruger Wildtuin, maar ook in Botswana.
* Die siekte kom ook by wild voor, veral buffels wat draers kan wees met geen kliniese simptome vir tot 24 maande. Wat belangrik is om te weet is dat hoewel buffels draers van die siekte is, hulle nie die oorsaak is daarvan in Bek-en-klou vrye areas nie. Inteendeel – hulle moet juis teen die siekte beskerm word omdat hulle nie ge-ent kan word nie, het dr Bastiaan gesê.
* Uitbrake in buffeltroppe kan vernietigend wees vir veral Suid-Afrika se toerismebedryf wat onomkeerbaar sal wees omdat dit ‘n endiese siklus sal veroorsaak.

Inenting
* Inenting en brandmerk verskil drasties in terme van beleid in die onderskeie provinsies.
* Inenting word slegs deur die staat gedoen omdat die siekte nie as endemies in Suid-Afrika verklaar is nie. Gevolglik kan die entstof volgens huidige wetgewing nie plaaslik vervaardig en aan boere beskikbaar gestel word om voorkomend te ent nie.
* Die entstof wat deur die staat op indeksplase (plase waar uitbrake bevestig is) gegee word, word van Botswana ingevoer en beperk verdere verspreiding deur letsels. Dit onderdruk ook moontlike draerstatus.
* Volgens protokol moet alles op voet ge-ent en gebrandmerk word met die F-merk waar uitbrake is.
* Ondersoeke op indeksplase sal bepaal of dit nodig is om kallers onder ‘n sekere ouderdom te ent.

Hoe lank is die entstof effektief?
* Enting met die Botswana entstof behoort immuniteit vir 6-8 maande te gee.
* Natuurlike immuniteit is twee tot drie maande, maar positief gediagnoseerde diere bly ‘n draer en kan die siekte weer kry.
* In beheerde sones soos rondom die Kruger Wildtuin word twee jaarlikse entings vereis vir effektiewe beskerming.

Wie betaal die koste van toetse en ente
* Die koste van enting, insluitend die tweede ronde onder uitbraak omstandighede word deur deur die staat gedra.
* Die koste van medikasie vir die behandeling van byvoorbeeld pyn en koors by positief gediagnoseerde diere, en om sekondêre siektes te voorkom, kom egter uit vee-eienaars se sakke.
* Die koste van letsel- of bloedtoetse waarmee Bek-en-klouser bevestig word, word deur die staat gedra. Boere kan wel op eie koste ook letseltoetse laat doen deur goedgekeurde private veeartse.

Slag van beeste
Beeste met bek-en-klou mag slegs met ‘n Rooikruispermit by geregistreerde slagpale geslag word. Die naaste geregistreerde slagpale vir bek-en-klou beeste is op Welkom,
Vleis en melk van beeste met bek-en-klou is veilig vir menslike gebruik.
Wanneer ‘n dier met die F-brandmerk geslag word, moet die kop, pote en vel vernietig word, en alle kliere uitgehaal en vernietig word. Die vleis van die karkas moet ook gevries word.

Gewoonlik kan ‘n bees met bek-en-klou eers 28 dae na twee rondes se inenting geslag word nadat dit met ‘n rooikruispermit na ‘n geregistreerde slagpale vervoer is. Hier is samewerking ten opsigte van protokol belangrik en moet deur nie net die vee-eienaar nie, maar ook deur slagpale en veilingshuise nagekom word.

Geregistreerde slagpale behoort tot ‘n redelike mate te kan help met die slag van enige dier met die F-brand, maar dit is raadsaam om vooraf seker te maak by geregisreerde slagpale oor protokol sou jy twyfel hê.

Skuif van beeste
* Skuif van beeste tydens kwarentyn sal afhang van die tyd wat verloop vanaf die laaste nuwe geval in die area en/of positiewe letsels op die plaas en/of tyd na enting mits die plaas positief was.
* Dit verskil dus drasties tussen die gevalle van positief gekwarentynde plase, en plase slegs gekwarentyn weens roetiene toetse in die 3/5/10 km radius vanaf indeksplase.
* Tydens kwarentyn is skuif van diere moontlik deur middel van n rooikruis permit wat deur die staatsveearts verantwoordelik vir die uitbraak uitgereik kan word.

Kwarantyn
* Plase waar daar besmetting is word onder kwarantyn geplaas, terwyl plase binne ‘n 10km radius in kennis gestel word van die besmetting en ook onder voorkomende kwarantyn geplaas word totdat die departement se ondersoeke afgehandel is.
* Kwarantyn beteken dat geen beeste in of van die plaas mag beweeg nie, en ook nie geslag of verkoop kan word nie. Normaalweg is kwarantyn ‘n vier maande periode mits geen nuwe gevalle op die indeksplaas aangemeld word nie.
* Die termyn van kwarentyn is egter relatief en word bepaal deur die situasie in die uitbraakgebied. Daar is tans hofsake rondom bek-en-klou en moet jy jouself vergewis van wat regulasies ten opsigte van bek-en-klouseer protokol bepaal. Ongemagtigde skuif en verkoop van vee uit kwarantyn areas of areas waar beweging beperk word, kan die risiko van vervolging en skadevergoedingseise inhou.

Risiko vir herinfeksie
Die risiko van herinfeksie hang af van die tyd vanaf enting en jou risiko vir herinfeksie.

Wat kan vee-eienaars doen:
* Hou jou kudde weg van ander kuddes.
* Verhoed neus-tot-neus kontak.
* Maak seker biosekuriteit word opgeskerp en onthou dit sluit naas voertuie ook jou werkers in wat in en uit sou beweeg, oorpakke en skoene.
* Die effektiefste is 2-stasie bespuiting – dekontaminasie en ontsmetting met ‘n hoëdrukspuit en ontsmetmiddel korrek toegedien volgens aanwysings, gevolg deur ontsmetting byvoorbeeld met droë kalk.
* Nat mis hou groot gevaar vir verspreiding in.
* Omdat die virus tot vyf dae in mense se lugweë kan leef sonder om te heg, kan jy die virus versprei na ander beeste as jy in direkte kontak was met besmette beeste. Mense kan egter nie die siekte kry nie.
* Praat met jou bure en wees eerlik as jy simptome van die siekte by jou vee sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button