Waarskuwing: Water begin oor brug loop
Daar sal teen vanmiddag tien sluishekke by Vaaldam oop wees en kan 'n aansienlike styging in die Vaalrivier se watervlak verwag word.
Motoriste wat van die Schoemansdrift laagwagterbrug in die Vredefort Koepel gebruik moet maak, is gewaarsku dat water vanoggend oor die brug begin loop het en dat die watervlak van die Vaalrivier se watervlak hier vinnig styg. Beplan asseblief vroegtydig alternatiewe roetes.
Daar word vanoggend nog sluishekke by Vaaldam oopgemaak sodat daar teen vanmiddag in totaal tien sluishekke oop sal wees.

Die addisionele sluishekke sal vanoggend om 10:00, 12:00 en 14:00 oopgemaak word. Vaaldam is tans 106% vol.
Die Schoemansdriftbrug was Sondag vir die eerste keer weer oop nadat dit op 19 November vir alle verkeer gesluit is weens die styging van die Vaalrivier se watervlak by die brug.



