Parys-matrikulant skitter met vierde plek in VS
Reinhard glo dat daar geen kortpad na sukses is nie. Dit verg harde werk en toewyding.
Nie net is Reinhard van der Hoven Hoërskool Parys se toppresteerders van die 2025-matriekklas nie, maar beklee dié skrander jongman die vierde plek onder die Vrystaatse topmatrikulante met ‘n skitterende nege vakonderskeidings.
Reinhard het naas ‘n onderskeiding in die IEB-eksamen vir Gevorderde Wiskunde, onderskeidings in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal vir Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, rekeningkunde waarvoor hy ‘n verstommende 100% behaal het, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe waarvoor hy 96% gekry het, rekenaartoepassingstegnologie, en lewensoriëntering.
Met dié uitslae het hy dan ook die beste prestasie in die Vrystaat behaal vir rekeningkunde, en die derde beste prestasie in die provinsie vir beide wiskunde en fisiese wetenskap.
Reinhard was Vrydag onder die matrikulante wat erkenning ontvang het vir sy uitmuntende prestasie.

Harde werk en toewyding
Reinhard se suksesresep was baie harde werk en toewyding.
Sedert graad 10 is dit sy droom om Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer, en glo hy dat daar geen kortpad vir akademiese sukses is nie. Jy moet eenvoudig gaan sit en leer.
Van die eerste dag wat hy by Parys Dierehospitaal begin help het in sy graad 10 jaar, het hy besef dat veeartseny sy passie is. Juis daarom was dit vir hom belangrik om goed te doen in sy matriekeindeksamen met die oog op keuring vir sy studies.

Reinhard het naas sy uitmuntende akademiese prestasie, ook nog sy tyd so bestuur dat hy selfs op die tennisbaan uitgeblink het. Hy is verlede jaar ingesluit in die Vrystaat-tennisspan.



