Hof beslis Ngwathe-administrasie moet geïmplementeer word
Die uitvoer van die oorspronklike administrasiebevel van 2025 is tot nou toe deur 'n lang en uitgerekte appèlproses vertraag.
‘n Vroeëre uitspraak in die Vrystaatse Hooggeregshof vir provinsiale ingryping om die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie te plaas, sal nou uitgevoer moet word. Dit volg nadat regter M. Opperman vandag in ‘n elektroniese uitspraak, die burgerregteorganisasie, AfriForum, se artikel 18(3)-aansoek om die bevel tot uitvoer te bring, toegestaan het.
Opperman se uitspraak bepaal dat die oorspronklike hofbevel wat op 20 Junie verlede jaar reeds in AfriForum se guns gelewer is, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word. Sy het ook ‘n kostebevel toegestaan waarvolgens Ngwathe verantwoordelik is vir AfriForum se regskostes in die aansoek, insluitend die koste van advokate.
Regter Opperman het in haar uitspraak gesê die sistemiese mislukkings van die munisipalitiet wat gekontamineerde water weens herhaalde rioolstortings tot gevolg gehad het, fiansiële insolvensie en die duidelik gebrekkige bestuur van die Ngwathe Munisipaliteit dringende en beslissende remediërende optrede vereis. Sy het verder gesê versuim om in te gryp in omstandighede soos hierdie sou strydig wees met wat deur die grondwet bepaal word, en kan nie toegelaat word in ‘n konstitusionele demokrasie nie.
Opperman het gesê dat die raad sedert sy instelling in 2021 meer as genoeg geleentheid gehad het om seker te maak dat uitvoer aan sy konstitusionele verpligting teenoor inwoners gegee word.
Sy het ook genoem dat ten spyte van vorige hofgedinge het Ngwathe se posisie verder versleg met skuldverpligtinge van miljoene. Sy het pertinent verwys na Ngwathe se skuld aan Eskom en Departement Waterwese en Sanitasie, asook vrugtelose en vermorste uitgawes, en die munisipaiteit se versuim om basiese dienste te lewer veral ten opsigte van watervoorsiening, sanitasie en elektrisiteitsvoorsiening.
Die hof het in Junie 2025 beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit se raad moet ontbind en die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp. Sedertdien is die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl in dié saak in Augustus 2025 van die hand gewys. Die munisipaliteit het hom daarna tot die Hoogste Hof van Appèl gewend, maar hul appèlaansoek daar is ook in Oktober 2025 van die hand gewys. In dié uitspraak het die hof beslis daar is “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”. I ntussen het die munisipaliteit aangedui dat dit die uitspraak in die Konstitusionele Hof gaan appelleer.
Ingevolge regter J.P. Daffue se Junie 2025-hofuitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering in die munisipaliteit te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;
- elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering wat in die bestuur van die munisipaliteit gedoen word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Ngwathe het 21 dae geleentheid vir appèl.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê die organisasie is verheug oor vandag se beslissende oorwinning. “Dit is tyd dat die munisipaliteit moet besef dat hulle nou hand aan die ploeg sal moet slaan en ook vir bekwame personeel sal moet plek maak om die diensleweringskrisis wat nou al jare lank hier voortduur in die belang van alle inwoners te beredder.”
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê dit was ’n lang en uitgerekte proses, maar sê die organisasie hoop dat hulle nou deur middel van samewerkingsooreenkomste met die munisipaliteit en met die hulp van toegewyde kundiges ’n pad van herstel sal kan stap saam met Parys en die ander dorpe in die munisipaliteit.”
AfriForum het reeds einde 2024 sy aansoek tot die hof gebring om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.
- Die Ngwathe Munisipaliteit is om kommentaar genader en sal kommentaar gepubliseer word sodra dit ontvang word.



