Local newsNews

Konsepwetgewing oor boorgate: Hoe raak dit jou?

DIe wetgewing is daarop gemik om alle boorgate te registeer op die Nasionale Grondwater Argief.

Die publiek het tot einde Februarie geleentheid om kommentaar te lewer op Departement van Water & Sanitasie (DWS) se konsepwetgewing wat in Desember gepubliseer is oor die boor en registrasie van boorgate.

Die wetgewing bevat ‘n verskerpte poging om alle boorgate te registreer op die Nasionale Grondwaterargief (NGA). Dit opsigself is nie ‘n slegte ding nie, aangesien die regering beter beheer moet uitoefen oor die registrasie van boorgate, en beheer van die inligting, maar kan dit verreikende gevolge vir inwoners van Parys inhou.

Raadgewende hidrogeoloog, Johan Smit, verduidelik

Wat beteken die konsepwetgewing vir jou?

Volgens die konsepwetgewing sal alle boorgateienaars hulle boorgate moet registreer op die NGA databasis, ongeag die gebruik (Skedule 1 of te wel huishoudelike gebruik, Wettige Bestaande Gebruik, of gebruike wat deur Algemene Magtiging of Waterlisensies beheer word).

Die gevolg is dat enige gebruiker van ‘n boorgat wat nie volgens die regulasies geregistreer is nie, dit onwettig gebruik.

Beperkings

Daar is egter ook ‘n paar beperkings voorgestel op waar geboor mag word, wat wenkbroue laat lig en waarop die publiek welkom is om kommentaar te lewer. Van die beperkings sluit in:

  • Dat daar nie in ‘n 50m radius geboor mag word van begraafplase, informele stortingsterreine en putlatrines nie, om besoedeling te voorkom.
  •  Ander bedenklike beperkings sluit in bestaansboerderye, dierkrale, diptrôe en selfs informele voertuigdienssentrums. Hierdie beperking neem egter nie die vermoë in ag om potensieel besoedelde water te behandel nie, en plaas jou buurman se ekonomiese belange bo jou reg tot toegang tot water.
  •  Verder is daar ‘n verstaanbare verbod op boor binne ‘n 1km- buffer rondom strategiese infrastruktuur. Dit kom na die onlangse fiasko waar daar per ongeluk in die Gautrein-tonnel ingeboor is.
Foto: geneem deur Johan Smit

Hoe kan Parys geraak word?

Die grootste beperking op veral Parys-inwoners en eienaars van rivierhoewes is ‘n voorgestelde beperking op die boor van gate binne 5km van ‘n ‘varswater ekosisteem.’
Hierdie word nie in die konsepwetgewing gedefinieer nie, maar volgens ander wetgewing sal dit riviere, damme en vleilande insluit. Gevolglik kan dit beteken dat geen meer boorgat geboor mag word in die hele Parys of selfs Tumahole nie.

Dit ongeag die swak stand van munisipale watervoorsiening wat duisende inwoners oor die laaste dekade genoop het om ten duurste hierdie uitgawe aan te gaan, wat volgens die Nasionale Waterwet (NWW) binne hul reg is om te doen. Die doel hiervan is om die Ekologiese Reserwe volgens die NWW te beskerm, wat varswater ekosisteme insluit.

Dit is verstaanbaar dat ekosisteme beskerm moet word, en dat onbeheerde grondwateronttrekking kan lei tot die opdroog van vleilande en kleiner riviere.

Gevolglik word grootskaalse onttrekking van water onderwerp aan spesialis-grondwaterstudies juis om hierdie impakte te bepaal alvorens dit gelisensieer word.

Bogenoemde ekosisteme word egter ook seisoenaal deur klimaat beïnvloed, wat ‘n veel groter impak het op regionale grondwatervlakke.

Verder word die Basiese Menslike Behoefte ook ingesluit in die Ekologiese Reserwe, en om mense hierdie reg te verbied op grond van ‘n moontlike impak op die vlakke van die Vaalrivier, is absurd en ongrondwetlik.

Kommentaar:

Kommentaar op die konsepwetgewing kan per e-pos gestuur word aan groundwaterregs@dws.gov.za. Die konsepwetgewing kan afgelaai word van die regering se webblad (www.gov.za, soek kennisgewing 6935 van 10 Desember 2025), of aangevra word van my (johan@tsunamiresources.com) of by die Gazette (gazettenuus@gmail.com).

Oor die skrywer:

Johan Smit
Johan Smit

Johan Smit het sy graad in M.Sc Omgewingswetenskappe (Hidrologie en Geohidrologie) aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf. Hy is ‘n raadgewende hidrogeoloog van Parys, en is die afgelope sowat 20 jaar in die dorp gevestig. Johan kan geskakel word by 083 204 4674, of stuur e-pos na johan@Johan Smit tsunamiresources.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button