Wes-gemeente se dominee Barry sê tot siens
Dominee Barry van Wyk was vir meer as 23 jaar as predikant betrokke by die NG gemeente Parys-Wes, en is die bevestiging van dié gemeente se nuwe leraar op Sondag 1 Maart.
“Toe ons verlede Sondag by die kerkterrein uitry, tref dit soos ‘n hamerhou. Nog net hierdie Sondag. Dan is dit tot siens sê.”
So gesels die NG Wes-gemeente in Parys se ds. Barry van Wyk wat Sondag sy afskeidspreek gee. En dan sy laaste verpligting – Sondag 1 Maart wanneer hy die gemeente se nuwe predikant, ds. Willie Griesel, bevestig.
Vir ds. Barry en sy vrou, Ina, is dit ‘n nuwe seisoen in hul lewe wat hul met harte wat oorloop van dankbaarheid, en ‘n rustigheid tegemoet gaan. Vir eers bly hul aan in Parys totdat hulle hul in Wellington gaan vestig.
Vir meer as 23 jaar was die Wes-gemeente deel van dominee Barry se storie. Eers as voltydse leraar, maar daarna ook as emmeritus-leraar vanaf 2024. Telkens het hy gebly as die kerkraad gevra het, maar nou is dit tyd om die tuig neer te sit, uit te span en dalk ‘n bietjie meer rond te ry, vakansie te hou met die boswa, of nie, en kosbare saamweestyd by hul kinders en kleinkinders te spandeer. Hy gaan doen wat sy hand vind om te doen. Sy skryfwerk afstof want uit sy pen kom diep woorde.
Diep woorde wat jy ook hoor as hy vertel van sy bediening by die Wes-gemeente waar hy met warmte, aanvaarding en liefde omarm is vandat Parys ‘sy plek’ geword het.

In sy meer as 40 jaar as leraar was hy net by twee gemeentes – Merlindale wat ook sy grootword plek en eerste gemeente was, en Parys. Hartsplekke waar hy sy roeping uitgeleef het.
In November 2003 is hy en Nettie by die Wes-gemeente in Parys verwelkom toe hy hier as leraar bevestig is na 17 jaar in Merlindale.
Met deernis het die gemeente hom gedra met die skielike afsterwe van Nettie, en daarna ook met dieselfde liefde vir Ina as predikantsvrou ontvang.
Oor die jare was daar baie hoogtepunte en diepte punte, vertel dominee Barry. Daar was die Caprivi-uitreike saam met van die dorp se ander NG gemeentes. Die gemeente se halfeeu-viering in 2010, en die saamstel van ‘n prag gedenkboek.
Maar dit is die sout-van-die-aarde mense van hierdie dorp en gemeente wat altyd vir dominee Barry en Ina sal uitstaan.
“Dit is dinge wat ek diep in my hart bêre. Ek het my hele bediening so geniet,” sluit hy af.



