Diewe dra al wat watermeter is weg
Dit is belangrik dat jy te alle tye sal seker maak dat jou perseel beveilig is want diewe is uitgeslape.
Diewe is steeds hard besig om watermeters in Parys te steel en is verskeie voorvalle die afgelope week weer gerapporteer.
Maak seker dat jy diefstal by die polisie aanmeld sou jy ‘n slagoffer wees omdat dit die polisie help om te bepaal waar probleemareas is.
Watermeters
Sou jou watermeter gestel word moet jy dit aan die munisipaliteit rapporteer. Dit is ook raadsaam om foto’s te neem sodat jy dit aan die munisipaliteit kan toon wanneer jy dit rapporteer tesame met jou adres en die datum waarop die meter gesteel is.
Die munisipaliteit het nie tans watermeters beskikbaar om te installeer nie, en sal mense wie se meters nou gesteel is, ‘n watermeter by ‘n hardewarewinkel moet gaan koop en die koopbewys hou om by die munisipaliteit in te handig sodat jy dienooreenkomstig vir die bedrag wat betaal is vir die meter, op jou diensterekening gekrediteer kan word.
Voordat jy egter ‘n watermeter koop, meld eers die diefstal by die munisipale kantore by kamer 2 aan en bevestig watter prosedures gevolg moet word vir die vervanging van die watermeter en konnektering van ‘n nuwe meter.
Beveilig ook jou hekmotor
Vir huiseienaars met elektriese motorhekke is dit raadsaam om ekstra veiligheidsmaatreëls in plek te stel om jou eiendom te beskerm.
Goeie raad is ook om jou naam en identiteitsnommer op ‘n manier op die hekmotor aan te bring, byvoorbeeld deur dit te graveer sodat dit nie maklik uitgewis kan word nie.
Dit is ook wys om die hekmotor stewig met ‘n steunarm aan die grond, of binne die eiendom vas te anker.
“Dit sal ook help om ‘n steunarm aan die bokant van die hek aan te bring. Diewe lig maklik ‘n hek van die spoor af en dié voorsorgmaatreël kan dit voorkom.”
Misdaadtendense beweeg dikwels oor na buurdorpe – wees daarom gewaarsku.



