Ngwathe rem weer provinsiale ingryping met appèl
AfriForum het reeds in 2024 met sy hofstryd teen die Ngwathe munisipaliteit begin en kon 'n hofbevel van 2025 om die munisipaliteit onder administrasie te plaas, steeds na maande nie tot uitvoer gebring word nie.
Ure nadat AfriForum Vrydag nog ‘n oorwinning in die hooggeregshof beklink het in dié burgerregte organisasie se lang en uitgerekte hofstryd teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor swak dienslewering, het die munisipaliteit aangedui dat hy weer eens gaan appèlleer teen die uitspraak.
Ngwathe se kennisgewing om te appelleer moet nog geliasseer word.
Dié appèl moet volgens wet op ’n dringende basis aangehoor word. Vir die tussentyd mag die 2025-hofbevel vir provinsiale ingryping en ontbinding van die munisipale raad, gevolglik steeds nie geïmplementeer word nie, het AfriForum vandag in ‘n verklaring gesê.
Regter M. Opperman het Vrydag in ‘n elektroniese uitspraak onmiddellike provinsiale ingryping beveel, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof. Sy het ook ‘n kostebevel toegestaan waarvolgens Ngwathe verantwoordelik is vir AfriForum se regskostes in die aansoek, insluitend die koste van advokate.
Regter Opperman het in haar uitspraak gesê die sistemiese mislukkings van die munisipalitiet wat gekontamineerde water weens herhaalde rioolstortings tot gevolg gehad het, fiansiële insolvensie en die duidelik gebrekkige bestuur van die Ngwathe Munisipaliteit, vereis dringende en beslissende remediërende optrede. Sy het verder gesê versuim om in te gryp in omstandighede soos hierdie sou strydig wees met wat deur die grondwet bepaal word, en kan nie toegelaat word in ‘n konstitusionele demokrasie nie.
Opperman het gesê dat die raad sedert sy instelling in 2021 meer as genoeg geleentheid gehad het om seker te maak dat uitvoer aan sy konstitusionele verpligting teenoor inwoners gegee word.
Sy het ook genoem dat ten spyte van vorige hofgedinge het Ngwathe se posisie verder versleg met skuldverpligtinge van miljoene. Sy het pertinent verwys na Ngwathe se skuld aan Eskom en Departement Waterwese en Sanitasie, asook vrugtelose en vermorste uitgawes, en die munisipaiteit se versuim om basiese dienste te lewer veral ten opsigte van watervoorsiening, sanitasie en elektrisiteitsvoorsiening.
Die Artikel 18 (3) aansoek wat AfriForum na die hof gebring het, het juis ten doel gehad om te vra vir onmiddellike implementering van regter J.P. Daffue se oorspronklike uitspraak in Junie 2025 vir provinsiale ingryping wat na byna ‘n jaar nog nie tot uitgevoer gebring kon word nie weens die lang en uitgerekte appèlproses wat gevolg het op Daffue se uitspraak.
Ingevolge Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering in die munisipaliteit te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;
- elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering wat in die bestuur van die munisipaliteit gedoen word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Ngwathe het aanvanklik aansoek om verlof tot appèl tot die hooggeregshof gerig wat in Augustus 2025 van die hand gewys is. Daarna het die munisipaliteit hom tot die Hoogste Hof van Appèl gewentd. Ook daar is die appèlaansoek in Oktober 2025 van die hand gewys. In dié uitspraak het die hof beslis daar is “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”. Die munisipaliteit het toe aangedui dat hy die uitspraak in die Konstitusionele Hof gaan appelleer.
AfriForum het vanoggend gereageer op die Ngwathe Uitvoerende burgemeester se verklaring Vrydag in antwoord op die Opperman-uitspraak, en waarin die burgemeester sê dat die munisipaliteit ‘stabiel en funksioneel’ is en dienslewering ‘sonder onderbreking voortgaan’. AfriForum het die burgemeester se uitlatings beskryf as ‘n desperate poging om die publiek ’n rat voor die oë te draai en ten koste van dienslewering aan mag vas te klou.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, hou vol dat bewerings van stabiliteit en ononderbroke dienslewering in dié munisipaliteit, ’n mite is. Volgens inligting wat AfriForum van die plaaslike gemeenskapsorganisasie Save Ngwathe ontvang het, is daar in Parys alleen binne slegs 72 uur (van Vrydag 20 Februarie tot Sondag 22 Februarie) meer as 60 wateronderbrekings en 3 000 kragonderbrekings aangemeld. Sommige huishoudings het binne net een dag drie kragonderbrekings ondervind en verskeie klagtes van skade aan elektriese toerusting weens die onderbrekings is ook aangemeld.
Die lewering van krag-, water- en sanitasiedienste is van die mees basiese dienste wat ’n munisipaliteit ingevolge die grondwet verplig is om aan sy inwoners te lewer. Om onder hierdie omstandighede te beweer dat die munisipaliteit nie in ’n krisistoestand verkeer nie, is misleidend en wys dat die burgemeester geheel en al verwyderd is van die werklikheid waarmee die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit daagliks gekonfronteer word,” het Pretorius gesê.
AfriForum het intussen ook skriftelik op die burgemeester se mediaverklaring gereageer en voortgesette appèlaansoeke – wat met belastingbetalers se geld gefinansier word, terwyl basiese dienste steeds nie gelewer word nie – skerp gekritiseer. Die burgerregteorganisasie sê hy beskou die munisipaliteit se voorneme om teen die jongste uitspraak te appelleer, sonder dat ’n behoorlike raadsvergadering daaroor gehou is, as ’n verontagsaming van die beginsels van goeie bestuur en ’n ondermyning van deursigtigheid en aanspreeklikheid.



