Rooitapyt-oomblikke vir Parys-kleuters
Vir die kleuters en ouers was dit 'n aand van kosbare onthou-oomblikke.
El Sali-kleuterskool het onlangs die rooitapyt uitgerol vir hul jaarlikse Dissipeldans met ’n kleurpalet van rooi, swart en wit wat ‘n klaskamer vir een aand in ’n feestelike dansvloer verander het.

Die Dissipeldans is ’n spesiale geleentheid vir die 4- en 5-jariges in hul finale kleuterskooljaar. Elke seuntjie en dogtertjie het op hul mooiste opgedaag om hul ouers stylvol te vergesel, terwyl hul mammas hul matriekafskeidrokke met trots weer aangetrek het, en die pappas hul pakke afgestof het. Daar is saam gedans, gelag en vele herinneringe bymekaar gemaak.

Volgens die skoolhoof, Chené Taute, gaan die Dissipeldans oor veel meer as net mooi aantrek. “Hierdie aand is vir ons ’n viering van groei – van hoe ver elke kind gekom het. Ons wil hê hulle moet spesiaal voel, trots wees op hulself en weet hulle is gereed vir die volgende fase,” het sy gesê. Taute het ook bygevoeg dat geleenthede soos die Dissipeldans nie net selfvertroue skep nie, maar ook die band tussen ouer en kind versterk.




