Pak jul goed en trek, eis AfriForum van Ngwathe-raad
Die optrede het gevolg na die onlangse uitspraak in die guns van AfriForum na hul Artikel (18 (3) aansoek tot die Vrystaatse Hoë Hof vir onmiddellike provinsiale ingryping by Ngwathe. Die munisipaliteit het intussen aangedui dat hy teen die uitspraak gaan appèlleer.
Die burgerregte organisasie, AfriForum, is vanoggend met kartonbokse na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se kantore in Parys waar lede van dié organisasie die bokse aan Ngwathe se Uitvoerende burgemeester, raadslid Victoria de Beer-Mthombeni wou oorhandig.
Volgens Alta Pretorius, streekbestuurder van AfriForum in die Mooirivier-streek, was dié gebaar in reaksie op die hofuitspraak in die Artikel 18 (3)-aansoek wat deur AfriForum na die hooggeregshof gebring is.
Regter M. Opperman het op 20 Februarie in AfriForum se guns beslis met ‘n uitspraak wat bepaal dat die hofbevel wat reeds op 20 Junie 2025 in die Vrystaatse Hoë Hof deur regter J.P Daffue gemaak is, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word.
Kragtens die Junie 2025-bevel moet die munisipale raad ontbind, en moet die provinsiale regering by die munisipaliteit ingryp.
“Ons het dit goedgedink om vir die munisipaliteit bokse te bring vir die trek, want hulle kom net nie tot op die punt om hul goed op te pak en die implementering van die hofbevel te laat voortgaan nie. Intussen gaan hulle, ondanks die feit dat dienslewering hier lank al nie meer op standaard is nie, voort met die een appèl ná die ander en dit met belastingbetalers se geld,” het Pretorius gesê.
Die munisipaliteit het intussen aangedui dat hy ook gaan appèlleer teen die uitspraak van die Artikel (18)3 aansoek.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekhoof vir die sentrale deel van die land, het aan Gazette gesê dat die groep van ses mense waaronder vier inwoners van die dorp wat die bokse wou oorhandig, kil ontvang is by die munisipale kantoor, en geweier is om die bokse te ontvang.

Grobbelaar het verduidelik dat die burgemeester nie op kantoor was toe die groep daar aangekom het nie, maar dat die munisipale bestuurder, dr. F. P. Mothamaha toe gevra is om die bokse namens haar te ontvang. Hierop is die sekuriteit gesê om die bokse uit die munisiple kantoor te verwyder en kan in ‘n video van AfriForum gesien word hoe sekuriteitspersoneel die bokse op die parkeerterrein skop.
AfriForum lede was vergesel van lede van die gemeenskapsgroep Metsi Pompong. Volgens een van die groeplede, Sello Modisedife sukkel inwoners van die Zone 6-woongedeelte van Tumahole die afgelope 15 jaar sonder water, terwyl inwoners van Ghana ‘n 20 jaar lange stryd met water het, is gesê. Modisedife het ook genoem dat naas water, is elektrisiteitsvoorsiening en riolering in die Ngwathe munisipaliteit ook ‘n groot frustrasie.
Hy het gesê hulle wil hê dat die munisipaliteit hulle moet hoor, en dat die munisipaliteit mag op ‘n negatiewe manier gebruik.





