Waardevolle wenke gegee oor die moets en moenies van dienskontrakte vir huis- en tuinwerkers
Kom kuier saam wanneer die VLU-dames weer op 27 September bymekaar kom.

Lede van die plaaslike Vroue Landbou Unie (VLU) tak het oor die moets en moenies rondom wetgewing en dienskontrakte vir huis- en tuinwerkers gesels. Nadia Linde, ‘n praktisyn in Arbeidsreg, het die oggend meer kom vertel, en vir die vroue al die nodige inligting gegee.
Dit was ‘n baie leersame oggend en een van die talle interessante en aktuele onderwerpe waaroor daar al vanjaar met VLU-byeenkomste gesels is.
Maar benewens die interessante onderwerpe is daar ook elke maand demonstrasies waaruit jy beslis iets kan leer.
Een van die VLU-lede, Marietjie le Roux, het met die laaste byeenkoms gewys hoe ‘n ruiker in ‘n japtrap en met min blomme gemaak kan word.
Kom kuier saam wanneer die VLU-dames weer op 27 September bymekaar kom. Jy hoef nie ‘n lid te wees nie, en hoef ook nie aan projekte deel te neem nie. Kom geniet die oggend saam met vroue, wat graag hul belangstellings, stokperdjies en wenke vir nuwe vaardighede deel. Gesels met Annatjie Dreyer by 082 464 0204, of Bernadet v/d Ende by 082 474 0304 vir meer inligting.
Kitswenk:
1. ‘n Halwe teelepel asyn in olie verhoed dat vleis wat in eier en meel gerol is, nie in die pan waarin dit gebak word, vassit nie. Die deeg sal ook nie afkom nie.
2. Gooi elke aand ‘n handvol growwe sout in die uitlaatpype van wasbakke. Die sout sal in die pype afdrup en dit vry van vetterigheid hou.






