News

Só kan jy weet wat die toestand van eiendom is voor jy koop of huur

Al dié maatreëls het uiteindelik net ten doen om beide die agent en die kliënt te beskerm, want kliënte maak staat op agente se professionaliteit en waardevolle kennis om die beste moontlike belegging en keuse van eiendom te maak.

Al ooit gewonder of jy ‘n onaangename verrassing gaan kry met ’n lekkende dak, termiete of selfs foute met die elektriese bedrading as die meubelvervoerwa voor jou huis staan en jy regstaan om in ‘n nuwe huis in te trek?
Nuwe wetgewing wat die ou Estate Agency Affairs Act van 1976 vervang en eintlik al sedert 2019 bestaan, het einde ten laas in Februarie vanjaar ten volle in werking getree. Met dié wetgewing is daar meer beskerming vir kopers en huurders, maar ook eiendomsagente wat ‘n groot verantwoordelikheid op hul skouers dra wanneer eiendom bemark en verkoop, of verhuur word.
Die nuwe wetgewing poog juis om die bedryf beter te reguleer.
Een van die aspekte wat spesifiek nou deur die wet afgedwing word om verbruikers en agente te beskerm, maar ook al sedert Maart 2011 vereis word, is ‘n toestandverslag van die eiendom wat verkoop of verhuur word. Dit sluit ook besigheidspersele in.
Die wet vereis dat die verslag ingevul en geteken moet word deur die verkoper of verhuurder selfs nog voordat die eiendomsagent ‘n mandaat aanvaar en die eiendom lys. Daar moet ook ‘n datum op die vorm aangedui word.
Die vorm word dan as aanhangsel ingesluit in die koop- of verhuringskontrak, en moet daar telkens wanneer eiendom weer aan iemand anders verhuur word, ‘n nuwe toestandverslag voltooi en geteken word.
In die gedetailleerde verslag moet die verkoper of verhuurder alle defekte of probleme met die eiendom bekendmaak. Dit sluit in byvoorbeeld daklekke, loodgieter- en rioleringsprobleme, vogprobleme, probleme met die elektriese bedrading en gasinstallasies, probleme met ‘n swembad, defekte met verhittings- en verkoelingstelsels wat geïnstalleer is, krake, strukturele foute, probleme met die struktuur as gevolg van aanbouings, aanbouings of verbeterings wat nie met die nodige toestemming gedoen is nie, of selfs as die eiendom tot historiese erfenis verklaar is.
Só ‘n verslag kan nie nadat die kontrak geteken is, voltooi word nie.
Die implikasie is dat sou daar geen verslag wees nie, of geen melding van probleme nie, dit inderdaad moontlik kan lei tot skadevergoedingseise, waar selfs die agent aanspreeklik gehou kan word, sou daar konkrete bewyse wees dat hy/sy vooraf bewus was van die probleem maar dit nie bekendgemaak is aan die voornemende koper of huurder nie.
Eiendomsagente het ‘n sorgsaamheidsplig teenoor kliënte om te verseker dat die koper of huurder presies weet wat hy/sy kry.
Die nuwe Property Practitioners Act stipuleer ook die vereistes waaraan eiendomsagente moet voldoen. Hiervolgens moet eiendomsagente ‘n voorgeskrewe eksamen (Professional Designation Examination) skryf en ook ses opleidingsmodules voltooi tesame met ses maande se internskap onder die toesig van ‘n eiendomsagent wat reeds die eksamen geslaag het, en beskik oor ‘n geldige Getrouheidswaarborgfonds Sertifikaat.
‘n Eiendomsagentskap en die prinsipaal van ‘n agentskap moet ook in besit wees van ‘n geldige Getrouheidswaarborgfonds Sertifikaat.
Sonder hierdie sertifikaat of bewyse dat die nodige aansoek hiervoor gedoen is, die agent hiervoor kwalifiseer en alle fooie hiervoor betaal is, kan agente volgens die huidige wetgewing nie aanspraak maak op kommissie nie.
Die sertifikaat is vir drie jaar geldig en moet dan hernu word.
Op kontrakte moet aangedui word dat die agent geregistreer is by die eiendomspraktisyns reguleringsraad.
Soos met die geval van versuim om ‘n toestandverslag in te dien, is daar ook met oortredings van die wetsvereistes rondom Getrouheidswaarborgfonds sertifikate, boetes wat opgelê kan word.
Kandidaat agente wat nog besig is met hul opleiding en internskap, moet duidelik op alle korrespondensie en hul bemarking aandui dat hul ‘n kandidaat agent is, stipuleer die wetgewing. As die agent nie die eksamen afgelê het na die ses maande internskap nie, moet weer aansoek gedoen word by die eiendomspraktisyns reguleringsraad vir ‘n volgende kandidaatskap termyn van ses maande, maar kan agente nie onbepaald as kandidate werk nie. Daar moet ook volgens die wetgewing duidelik op alle bemarking en korrespondensie aangedui word as die agent ‘n kandidaat agent is wat nog onder die toesig van ‘n agent werk. Al dié maatreëls het uiteindelik net ten doen om beide die agent en die kliënt te beskerm, want kliënte maak staat op agente se professionaliteit en waardevolle kennis om die beste moontlike belegging en keuse van eiendom te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button