Dit is nog nie soos dit in 2010 was nie
Die Vaalrivier galop op ‘n wilde vaart en die rivier se watervlak het oornag drasties gestyg. Oral is dit die ene wiele en voete soos waterkykers hul lense instel op die waterskouspel. Maar dis nog nie soos ons dit in 2010/11 gesien het nie, sê sanger, Francois Fourie. Francois en Elizabeth Fourie is al vir …
Die Vaalrivier galop op ‘n wilde vaart en die rivier se watervlak het oornag drasties gestyg. Oral is dit die ene wiele en voete soos waterkykers hul lense instel op die waterskouspel. Maar dis nog nie soos ons dit in 2010/11 gesien het nie, sê sanger, Francois Fourie.
Francois en Elizabeth Fourie is al vir jare inwoners op die Vaal de Grace-landgoed net buite Parys, en vertel hoe water destyds kniehoogte oor die brug by Vaal de Grace met die vloede van 2010/11 gespoel het. Francois vertel dat die landgoed toe vir drie dae van die buitewêreld afgesny was.
Die foto is destyds deur Francois geneem met die 2010-vloede.
Die foto hieronder is Maandagoggend op die Chats for Parys Issues WhatsApp-groep geplaas.
Theo van Niekerk, kommunikasiehoof van Potchefstroom Rampbestuur Landelik Vrywilligers het vanoggend om 07:35 bevestig dat 8 sluise steeds oop is by Vaaldam. Die dam is tans 106,42% vol. Invloei is 1 519 kubieke meter per sekonde, en die uitvloei 1162 kubieke meter sekonde. Daar was sowat 9,6mm reën in die Vaaldam se opvangsgebied.
Barrage is 100% vol. Die uitvloei hier is met die laaste beriggewing aangepas na 1 445,155 kubieke meter per sekonde. Vier sluishekke is vol oop en 5 sluishekke oop teen 27 duim. Barrage is nog gebou toe duime die maatstaf was.
Bloemhof se uitlaat is verhoog om 11:00 na 1600 kubieke meter per sekonde.
Van Niekerk waarsku dat mense versigtig moet wees by water oor laagwaterbrue. Verwyder pompe en toerusting by die rivieroewer, en beplan jou roetes vroegtydig om laagwaterbrue te vermy.
Klerkskraaldam, Boskopdam en Potchefstroom damme is 100% vol en loop oor hul walle. Damvlakke word gemonitor.