AfriForum eis optrede van minster oor dorp se waterkrisis
Pretorius sê dat AfriForum die munisipaliteit al vir langer as twee jaar vra om 'n kragopwekker aan te koop sodat die water gesuiwer kan word tydens lang kragonderbrekings in Parys. Die tender is uiteindelik in April 2023 uitgereik en het op 2 Mei gesluit. "As daar nie dringend deur die provinsiale of nasionale regering ingegryp word nie stuur dié kwessie in Parys op 'n ramp af. Die munisipaliteit het nie die wil of vermoë om hierdie waterkrisis op te los nie," sê AfriForum.

AfriForum se Parys-tak het verlede week ‘n dringende skrywe aan Senzo Mchunu, die minister van Water en Sani- tasie, gerig oor die waterkrisis in Parys. Dit nadat inwoners vir die soveelste keer in hoeveel maande weer vir dae aaneen sonder water moes klaarkom.
Die burgerregte organisasie verwys in sy brief na ‘n vergadering wat die minister in Junie in Parys ghou het, en waartydens minister Mchunu sou gesê het hy kan verantwoordelik gehou word as daar nog steeds waterprobleme in Parys is, sê AfriForum in ‘n verklaring.
Die organisasie sê niks het sedertdien vir inwoners verander nie. Die krane bly droog.
Die minister het met sy vergadering. wat ook deur departement waterwese en sanitasie, en die Ngwathe Munisipaliteit onder leiding van sy uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer bygewoon is, daarop aangedring dat Ngwathe dadelik ‘n kragopwekker moet aanskaf sodat die waterwerke tydens kragonderbrekings steeds kan funksioneer.
Verder het Mchunu genoem dat hy daarop aandring dat daar behoorlike sekuriteit moet wees by die watersuiweringsaanleg, omdat die munisipaliteit vroeër gewys het op vandalisme as een van die redes vir die knaende watervoorsieningsprobleme.
Die minister het aangedring dat sleutelposte soos dié van die munisipale bestuurder, finansiële hoof en direkteure so gou moontlik met bevoegde mense gevul moet word.
AfriForum skryf in sy brief dat die organisasie verneem het dat die aankoop van die kragopwekker vir die wateraanleg eers goedgekeur kan word wanneer ‘n munisipale bestuurder aangestel is om die aankoop van ‘n kragopwekker goed te keur. ‘n Nuwe waarnemende munsipale bestuurder is wel sedert die vergadering aangestel, en het mnr. Tebogo Manele Maandag in die pos begin. Hy is soos die vorige munispale bestuurder deur die Vrystaat provinsie gesekondeer om in die pos waar te neem totdat die pos permanent gevul is.
Dit sal wel ‘n mate van kontinuïteit bring, hoewel die senior poste van hoof finansiële beampte en twee direkteure steeds nie permanent gevul is nie.
AfriForum skryf in sy brief aan die minister dat daar nog byna geen sekuriteit by die waterwerke is nie – “die hek staan oop en enige iemand kan ingaan”.
“Dit is onaanvaarbaar dat die inwoners van Parys so swaar moet kry, veral nadat die minister onderneem het om toe te sien dat die nodige gedoen word. Water is ‘n basiese mensereg, en daarom verwag ons dat daar teen die einde van die week positiewe terugvoer moet wees, anders sal AfriForum se regspan die nodige stappe neem,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.AfriForum het ‘n maand gelede in ‘n verklaring aangedui dat hy Ngwathe weer hof toe wil vat oor Parys se waterstryd.
Die hof het vroeër bevind dat ten spyte van hoë Ecoli-vlakke in die water, die organisasie se aansoek om ‘n interdik teen die Ngwathe munispaliteit te kry oor sy watervoorsiening aan inwoners, nie dringend is nie. AfriForum het sy vroeëre aansoek om ‘n strukturele interdik te kry, al in 2022 na die hof gebring, en was die dringende aansoek teen die munsipaliteit om stappe te neem om skoon water aan die gemeenskap te verseker.
AfriForum moes toe ‘n aanvullende verklaring liaseer, en ook die Departement van Water en Sanitasie, en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) as partye tot die aansoek voeg.
Pretorius sê dat AfriForum die munisipaliteit al vir langer as twee jaar vra om ‘n kragopwekker aan te koop sodat die water gesuiwer kan word tydens lang kragonderbrekings in Parys. Die tender is uiteindelik in April 2023 uitgereik en het op 2 Mei gesluit. “As daar nie dringend deur die provinsiale of nasionale regering ingegryp word nie stuur dié kwessie in Parys op ‘n ramp af. Die munisipaliteit het nie die wil of vermoë om hierdie waterkrisis op te los nie,” sê AfriForum.



