Onbeskryflike hartseer: Nog grafstene aan stukke
"Iemand wat so iets doen het geen respek of integriteit nie," het Jeanetta hartseer vertel."Jy kan sien hoe hierdie seer die gemeenskap van Vredefort raak."

Nog grafstene is die afgelope week in die Vredefort-begraafplaas beskadig in grootskaalse plundering in dié begraafplaas wat vroeg in September begin het.
Geskokte familielede het die naweek die skade ontdek van geliefdes se grafstene wat omgeruk en onherstelbaar beskadig is nadat dit met die vorige plundering nog ongeskonde was. Die skade in die begraafplaas waar na raming al meer as die helfte van grafte gebreek is, beloop duisende afgesien van die emosionele pyn vir mense wie se geliefdes hier begrawe is.
Jeanetta Saayman-du Toit, vertel dat sy en haar man, Paul, die naweek in Vredefort by haar ma, Bettie Saayman, gekuier het. Haar pa, oupa en ouma se grafte was na die vorige plundering nie beskadig nie. Groot was die hartseer Sondag toe sy moes sien dat beide haar oupa en ouma Van Tonder se grafstende aan stukke lê.

Jeanetta Saayman-du Toit se oupa se grafsteen wat gebreek is. Die skade is Sondag gesien.
Sy vertel dat hulle aanvanklik gesukkel het om die grafte te kry en dat sy haar oupa en ouma se grafte uitgeken het aan die marmer voetstuk waarop die grafstene gemonteer was, en waarop net hul van nog sigbaar was. Beide grafstene is omgegooi en gebreek. Hulle het die polisie in kennis gestel en ‘n verklaring afgelê.
Om een van die grafstene wat Jeanetta na aan haar oupa en ouma se grafte gesien het, was toue vasgemaak en ‘n ysterpaal het langs die graf gelê.


Die grafte van Bettie Saayman se suster, Susan le Roux, en haar swaer, Jan wat met die eerste grafstendings beskadig is.
Hoe beskryf jy die emosie wanneer ‘n bejaarde pa sy dogter se grafsteen probeer regop tel. Dit is die derde keer dat sy dogter se grafsteen beskadig word, sê hy, sy kop geboë terwyl hy en ‘n vriend met grawe die steen regskuif. Wie doen so iets aan ‘n ander?







