News

Onbeskryflike hartseer: Nog grafstene aan stukke

"Iemand wat so iets doen het geen respek of integriteit nie," het Jeanetta hartseer vertel."Jy kan sien hoe hierdie seer die gemeenskap van Vredefort raak."

Nog grafstene is die afgelope week in die Vredefort-begraafplaas beskadig in grootskaalse plundering in dié begraafplaas wat vroeg in September begin het.

Geskokte familielede het die naweek die skade ontdek van geliefdes se grafstene wat omgeruk en onherstelbaar beskadig is nadat dit met die vorige plundering nog ongeskonde was. Die skade in die begraafplaas waar na raming al meer as die helfte van grafte gebreek is, beloop duisende afgesien van die emosionele pyn vir mense wie se geliefdes hier begrawe is.

Jeanetta Saayman-du Toit, vertel dat sy en haar man, Paul, die naweek in Vredefort by haar ma, Bettie Saayman, gekuier het. Haar pa, oupa en ouma se grafte was na die vorige plundering nie beskadig nie. Groot was die hartseer Sondag toe sy moes sien dat beide haar oupa en ouma Van Tonder se grafstende aan stukke lê.

Jeanetta Saayman-du Toit se oupa se grafsteen wat gebreek is. Die skade is Sondag gesien. 

Sy vertel dat hulle aanvanklik gesukkel het om die grafte te kry en dat sy haar oupa en ouma se grafte uitgeken het aan die marmer voetstuk waarop die grafstene gemonteer was, en waarop net hul van nog sigbaar was. Beide grafstene is omgegooi  en gebreek.  Hulle het die polisie in kennis gestel en ‘n verklaring afgelê.

Om een van die grafstene wat Jeanetta na aan haar oupa en ouma se grafte gesien het, was toue vasgemaak en ‘n ysterpaal het langs die graf gelê.

Op die graf lyk dit of daar vuur gemaak s by die kruis. Die grafsteen is vroeër in September beskadig.
Die Van Tonders se grafstene is nie enigstes wat met die jongste plundering  beskadig is nie. Jeanetta vertel dat een van haar ma se susters se grafsteen met die vorige plundertog wat rondom 11 September ontdek is, beskadig is. Haar ma se ander suster se graf was  Sondag toe hulle in die begraafplaas was, nog in takt, maar toe haar niggie Maandag die dag die graf besoek het, was ook dié graf van die Maartens-egpaar beskadig.

Die grafte van Bettie Saayman se suster, Susan le Roux, en haar swaer, Jan wat met die eerste grafstendings beskadig is.

Hier en daar kan jy sien hoe mense probeer het om die gebreekte grafstene te ‘lap’ vertel Jeanetta, maar wat jy in die begraafplaas sien, is skokkend met die meeste grafstene wat gebreek langs grafte lê. “Iemand wat so iets doen het geen respek of integriteit nie,” het Jeanetta hartseer vertel.”Jy kan sien hoe hierdie seer die gemeenskap van Vredefort raak.”
Toe die vandalisme vroeër vandeesmaand in die begraafplaas ontdek is, is die hartroerende gesig gesien van inwoners van die Vrystaatse dorpie wat verslae in die begraafplaas rondgestaan het – woordeloos oor die skade Rye grafte waar grafstene omgegooi en gebreek is. Mense het in ‘n stroom by die begraafplaas gekom om te soek na die stukke van die grafstene van hul geliefdes. Baie het nie die fondse om die grafstene te herstel nie. Van die mense wat hier begrawe is, se familie woon ver, of leef nie meer nie.

Hoe beskryf jy die emosie wanneer ‘n bejaarde pa sy dogter se grafsteen probeer regop tel. Dit is die derde keer dat sy dogter se grafsteen beskadig word, sê hy, sy kop geboë terwyl hy en ‘n vriend met grawe die steen regskuif. Wie doen so iets aan ‘n ander?

Dit is ook nie die eerste keer dat grafplunderaars die Vredefort-begraafplaas plunder nie.
Die bekende marmer grafsteen op die laaste rusplek van die kluisenaar Andries Petrus Hendricks is een van die grafstene in die Vredefort-begraafplaas wat al by herhaling oor jare deur vandale geskend is. Die lewensgrootte figuur van Italiaanse marmer, omring met pilare wat in ‘n halfsirkel staan, is onthoof, met die kop wat in nog ‘n beskadigde graf voor die Hendricks-graf lê. Selfs metaalplaat wat eens op ‘n tyd op die beeld se voetstuk aangebring was met die woorde, “Gone and forgotten” soos Hendricks dit in sy testament bepaal het, is weg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button