VVA ‘n staatmaker in nood, vloed en waternood
VVA het sonder twyfel die afgelope jaar kop en skouers uitgestaan om 'n verskil in die Parys-gemeenskap te kon maak.
Van die 9 627 mense in die Parys en Vredefort gemeenskappe wat die afgelope finansiële jaar deur Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se sopkombuis, met etes of kospakkies bereik is, was 2 026 kleuters, en dit is jou bydrae wat verseker dat ook hierdie kleuters met ‘n vol magie kan gaan slaap.
Kom wys Saterdag, 21 Oktober jou ondersteuning vir VVA by die netbaldag op Parys Primêre skool se netbalbane. Fondse wat hier ingesamel word sal die VVA help om hulle te help wat hulp die nodigste het.Maak ook ‘n nota van die gholfdag wat op 3 November by die Parys Golf & Country Estate baan ten bate van VVA gehou word.
Meer oor wat VVA in jou dorp doen:
VVA gee daagliks kos aan meer as 100 werklose mense, en is ook vanjaar met ‘n skoonmaaksie by besighede in die dorp begin in ruil vir ‘n bord kos.
Maatskaplike nood in gemeenskappe word meer, en finansiële druk op welsynsinstansies om te oorleef erger. Tog kon die plaaslike VVA-tak daarin slaag om die skokke van die voorafgaande jare in Covid-tyd, se verliese waarteen die VVA bedryf was, om te keer, het Andé Wesseloo, voorsitter van die VVA-bestuur gesê in die organisasie se jaarverslag. Dit was moontlik danksy borge en die oop harte en hande van die gemeenskap, asook vrywilligers wat die hande en voete van die organisasie is.
Betrokke en diensbaar
In ‘n jaar van uiterstes is nie net na maatskaplike nood omgesien nie, maar ‘n verskil gemaak in Parys se daelange krag- en waternood in Julie 2022. Vrywilligers en personeel het op sosiale media vir bydraes gevra, en skenkings het ingestroom. Daar is gekook, gesny, verpak en afgelewer waar ookal die behoefte was. Selfs by tehuise vir bejaardes, Gleniffer en ander sopkombuise.
Toe vloedwater in Februarie vanjaar sowat 40 mense op sewe plase in die Vredefort Koepel gebied afgesny het, en hulle nie die dorp kon bereik nie weens paaie wat onbegaanbaar was, het Henning Vosloo en ‘n paar boere in die omgewing die pad oopgekap om die berg sodat die nodigste hulp verleen kon word. VVA het gehelp om inderhaas kospakkkies bymekaar te maak, en die aand te sorg vir iets te ete vir hierdie mense. GWA Foundation van Fordsburg het klaar gekookte etes reg gehad en saam gery om die kospakkies af te lewer.
Daar kon selfs met die hulp van ‘n pensionaris-egpaar toilet- en sanitêre ware beskikbaar gestel word vir veral mammas met babas, en vrouens, toe die Vaalrivier sy walle oorstroom het, en deur huise en oor eiendom gebars het.
Naas die daaglikse hulpverlening met kosvoorsiening het VVA die afgelope jaar by hul Sakpas klerewinkel, 1 490 kledingstukke gratis voorsien aan behoeftiges, terwyl 182 kledingstukke ook by die VVA-kantoor uitgegee is. Die klere wat by Sakpas verkoop word, stop weer ander gate toe – of dit is om te help met babadoeke, formulemelk, toiletware, huisware, of selfs beddens.

Dankbaar
Daar is groot dankbaarheid by VVA vir die omgee van skole soos Parys Christellike Skool en Dome Primary wat met Valentynsdag uitgereik het met skenkings van onder meer bababenodigdhede, klere, speelgoed en kos vir kinders tussen die ouderdomme van 0 tot 6 jaar. Op hul beurt het VVA weer gehelp met skoene vir behoeftige leeders.
Die sakegemeenskap van Parys help gereeld met onder meer kruideniersskenkings, en het ‘n plaaslike sakeman, Se Ki, en sy vrou, kort voor die Feestyd einde 2022, gehelp met kospakkies vir 108 gesinne. Dankie ook aan Mica, Swagefast en Parys Gietery wat gereeld help met pryse en borge vir fondsinsamelings, Vivo Bedding wat gehelp het met beddens, en die Arrie Nel Apteek Groep vir rakke vir die Sakpas Winkel.
‘n Groot dankie aan die Harley Owners Group van Bloemfontein vir hul R10 000 skenking aan VVA.
Daar was goedheid sonder grense om VVA se hande te sterk met watertenks wat by die VVA-kantoor in Parys geïnstalleer is danksy ‘n gemeenskapsinisiatief van Pula Build it en Repmetco, wat saam met borge die watertenkprojek geloods het. So ook Parys Primêr wat altyd bereid is om hul terrein gratis beskikbaar te stel vir VVA, en Egweni wat die afgelope twee jaar gratis hul fasiliteite beskikbaar gestel en kos aangebied het vir die VVA jaarvergadering.
Met die jaarlikse Broodjiedag in Julie het Parys se mense 233 brode geskenk. Weereens het skole nie geskroom om te help nie en het PCS, Blikoortjies, Bumble Tots en die Voortrekkers gehelp met brood vir ander.
Selfs die Vroue Landbou Unie (VLU) dames en anonieme skenkers het danksy ‘n inisiatief van die VVA hoofbestuur, honderde bottels geskenk waarin ‘n maaltyd in ‘n bottel verpak is.
Toe VVA vrywilligers self emosioneel afgetakel was tydens die kragkrisis, het die nie-winsgewende organisasie Purple Foundation, die VVA-kantoor besoek met ‘n boodskap van hoop, en skenking vir ‘n vrywilligerbraai. Dan was daar ook fondsinsamelingsprojekte vir VVA in die Vaaldriehoek-gemeenskap geloods is.
Fondsinsamelings is nodig
Daar is die afgelope jaar 850 muffins gebak, jaffels by die dosyne gemaak, hordes pannekoeke gerol, pret gehad met die Donkey Derby, en op die gholfbaan afgeslaan om die rande te laat inrol vir VVA. Selfs ‘n gesondheidsdag is gereël en ‘n bederf Oukersaand vir die Vredefort Hartshuis. Die grootste pret was die jaarlikse Boete, Betaal of Boei fondsinsameling waarmeer R18 050 ingesamel is.
VVA het sonder twyfel die afgelope jaar kop en skouers uitgestaan om ‘n verskil in die Parys-gemeenskap te kon maak.



