Verklaar kragnetwerk tot ramp, vra raadslid
Kragpale is in 'n haglike toestand, geroes en skeef met onooglike kabelkonneksies wat meer na 'n 'kraaines as iets anders lyk'. Onderhoud aan die kragpale word al vir die afgelope 30 jaar nie gedoen nie, sê rdl. De Jager.

Inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville se frustrasie met gereelde lang kragonderbrekings weens hoofsaaklik die gebrek aan onderhoud van die kragnetwerk, en onvermoë om ‘n diens aan inwoners te kan lewer, het na meer as drie weke se knaende gesukkel met krag byna breekpunt bereik.
Wat die meeste frustreer is die Ngwathe munisipaliteit se totale onvermoë om met sy inwoners te kommunikeer, en die gesloer om foute te herstel.
Verlede week het verskeie areas weer vir dae sonder krag gesit nadat kragpale omgewaai het tydens stormweer. Geen woord van die munisipaliteit om te sê wanneer kragtoevoer herstel sal word nie.
DA-raadslid Saal de Jager wat ook ‘n lid van die raad se infratruktuurkomitee is, het verlede week in ‘n skrywe ‘n dringende beroep op mnr Tebogo Manele, die munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, gedoen om onmiddellike aksie te neem om oplossings te vind vir die kritieke situasie waarin Ngwathe se elektriese infrastruktuur tans is, om verdere katastrofes te verhoed.
Hy het in sy skrywe daarop gewys dat sommige inwoners van Parys en sy buurdorp, Vredefort, vir dae sonder krag moes sit omdat daar nie ‘n ‘cherry picker’ beskikbaar was nie.
In Koppies, het die Boshof transformator ontplof. Op 13 Desember was ‘n melkery wat geraak is deur die skade by die transformator, al byna drie weke sonder krag. Ook hier, sê rdl De Jager, het die munisipaliteit in gebreke gebly om spoedig aandag aan die probleem te gee.
Kragpale is in ‘n haglike toestand, geroes en skeef met onooglike kabelkonneksies wat meer na ‘n ‘kraaines as iets anders lyk’. Onderhoud aan die kragpale word al vir die afgelope 30 jaar nie gedoen nie, sê rdl. De Jager.
In sy skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder wys hy verder daarop dat die transformators in meeste areas oorlaai word omdat dit nie voldoende is om die las te kan dra van die vele deeltitelontwikkelings wat oor die afgelope drie dekades gedoen is nie.
Dit het ‘n baie nadelige effek op die dorp wat eens so vinnig ontwikkel het, sê rdl. De Jager, en voeg by dat meer huise nou in die mark is as ooit tevore.
Rdl. De Jager wys ook op die gevaar van kragpale en drade wat na die storm verlede week op sypaadjies en in strate gelê het.
Hy sê baie pale is geroes aan die onderkant en hang op genade aan elektriese drade.
Hy sê hy is verbaas dat die munisipaliteit en verkeersdepartement nie aksie geneem het om juis mense se veiligheid te verseker in die nabye omgewings waar kragpale omgewaai het nie.
Rdl. De Jager vra dat die die dorp se elektriese infrastruktuur tot ramp verklaar moet word ten einde die hulp van ‘n derde partye te kan bekom, omdat dit ‘duitdelik geword het dat dit die enigste manier is om Ngwathe te red.’
Gazette het in November berig dat daar toe een bakkie vir die elektriese afdeling beskikbaar was, en een voertuig met ‘n hyserbak (cherry picker). Gevolglik het dit ure geneem voordat aan al die klagtes wat gerapporteer word, aandag gegee kon word.
Die gebrek aan voertuie is net van die ontstellende leemtes in veral Parys se krag- en wateradministrasie wat aan die lig gekom het toe raadslede deur Ngwathe se uitvoerende burgemeester Victoria de Beer-Nthombeni op kort kennisgewing in November byeen geroep is vir ‘n spesiale raadsvergadering.
By die vergadering is gesê elektriese kabel word byna elke nag tydens beurtkrag gesteel, en selfs helder oordag. Daar is toe ook gesê dat Ngwathe byna geen kabel in voorraad hou nie, en ook geen koppelstukke vir kabels nie.



