Munisipaliteit tree op teen onwettige reklameborde
Onbehoorlike installasies kan infrastruktuur beskadig of padverkeer belemmer, wat risiko’s vir sowel motoriste as voetgangers inhou
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het ’n hernieude veldtog van stapel gestuur om onwettige buitelugreklame borde en strukture in al die dorpe onder sy jurisdiksie te verwyder. Kennisgewings is Maandag reeds op 20 ongemagtigde reklameborde in Parys geplaas, en sal dié borde binne sewe dae vanaf die kennisgewingdatum verwyder word as nie gehoor gegee word aan munisipale regulasies nie.
Kennisgewings is vroeër ook al deur die munisipaliteit uitgereik aan individue en ondernemings wat verantwoordelik is vir die oprigting van ongemagtigde reklameborde. In Parys alleen het munisipale amptenare verlede jaar ongeveer 200 onwettige advertensiestrukture geïdentifiseer en aangeteken.
Volgens die munisipaliteit is baie van hierdie reklameborde opgerig sonder die nodige toestemming of betaling van toepaslike gelde, in stryd met munisipale verordeninge en inkomste-invorderingsprosesse. Die munisipaliteit het alle ondernemings versoek om die korrekte prosedures te volg wanneer daar om buitelugadvertensieruimte aansoek gedoen word.
Directo Signs van Bloemfontein het die kontrak met die munisipaliteit om toe te sien dat reklameborde aan die munisipaliteit se spesifikasies rakende grootte, plasing en veiligheid moet voldoen, veral dié wat langs strate en sypaadjies geleë is, en sal ook met die eienaars van die reklameborde kontak maak waar nie aan regulasies voldoen word nie.
Onbehoorlike installasies kan infrastruktuur beskadig of padverkeer belemmer, wat risiko’s vir sowel motoriste as voetgangers inhou, en waarsku die munisipaliteit daarom dat enige reklameborde wat sonder magtiging opgerig is, ná die uitreiking van kennisgewings verwyder sal word en oortreders beboet sal word.
Inwoners kan die munisipale kantore skakel of besoek vir riglyne rondom die toepaslike regulasies of kontak maak met mnr. Bernard McDermott van Ngwathe Verkeer by 082 874 1251 vir meer inligting.



