Local newsNews

Ngwathe bestuurskrisis na ‘n jaar steeds nie opgelos nie

Solank 'n aanstelling in die pos as munisipale bestuurder nie gemaak word nie, kan die vakatures van drie ander senior poste ook nie gevul word nie

yna drie maande nadat die Ngwathe Raad mnr. Mxolisi Pali op kontroversiële wyse aangestel het as waarnemende direkteur van sy departement gemeenskapsdienste, verstryk sy waarnemingstydperk op 7 Februarie, sonder dat die Lid van die Uitvoerende Komitee vir Plaaslike Regering ooit gereageer het op ‘n versoek van die Vryheidsfront Plus om in te gryp en die munisipaliteit aan te sê om die onwettige aanstelling ter syde te stel.
Die versoek van rdl. Van der Merwe aan die LUR het gevolg nadat hy die raad daarop gewys het dat mnr. Pali nie oor die toepaslike graadkwalifikasie vir die pos beskik nie, en ook nie voldoen het aan die vereistes vir die aanstelling in die pos nie.
Die pos van die direkteur van gemeenskapsdienste is wel as besprekingspunt op die agenda geplaas vir die raad se volgende sitting.
Die waarnemingstermyn van beide die direkteure van gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste verstryk op 7 Februarie en sal die Ngwathe raad dringend hieroor moet besin.
Die Ngwathe munisipaliteit sit al vir ‘n jaar met ‘n enorme bestuurskrisis nadat sy vorige munisipale bestuurder met 24 uur kennis bedank het. Ook die poste van die hoof finansiële beampte en direkteure van gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste is na maande nie gevul nie.
Solank ‘n aanstelling vir die pos as munisipale bestuurder nie gemaak word nie, kan die vakatures vir die drie ander senior poste nie gevul word nie omdat die munisipale bestuurder ‘n leidende rol in die aanstellings speel.
Teen September verlede jaar is die pos van munisipale bestuurder ‘n derde keer geadverteer na maande se voete sleep om die proses binne die gegewe tydsraamwerk af te handel.
Nadat die pos aanvanklik geadverteer is, is gesê dat geen geskikte kandidate gekry kon word nie. Die Vrystaat provinsie het toe inderhaas ‘n munisipale bestuurder, mnr. T. Ngese gesekondeer om as munisipale bestuurder waar te neem om die munisipaliteit kans te gee om weer die pos te adverteer. Toe sy termyn verstryk het, het die provinsie weer ‘n waarnemende munisipale bestuurder in die persoon van mnr. Tebogo Manele gesekondeer wat steeds in die pos waarneem.
Na verskeie kandidate wat as hoof finansiële beampte waargeneem het in die plek van mnr. Hopolang Lebusa wat in Julie 2022 bedank het, het die provinsie uiteindelik iemand vir die pos as hoof finansiële beampte moes sekondeer om waar te neem.
Rdl. Van der Merwe sê onderhoude vir die pos as hoof finansiële beampte vir Ngwathe is reeds gevoer en ‘n kandidaat is intussen geïntifiseer wat die nodige vaardigheidstoetse sou moet aflê.
Die posisie van Ngwathe se direkteur van tegniese dienste, mnr. Malunga, is ook steeds n raaisel nadat hy aanvanklik tydelik geskors was hangende ‘n ondersoek, en sy tugverhoor toe nooit plaasgevind het nie weens ‘n gebrek aan samewerking van getuies. Die klagte teen mnr. Malunga het verband gehou met pligsversuim en versuim om wettige opdragte uit te voer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button