Die verbysterende toename van waterslaai in die Vaalrivier wek al ‘n geruime tyd ernstige kommer en hou ‘n groot bedreiging in vir die rivier se akwatiese stelsel. By plekke is dit al so erg dat bote nie meer kan deurgaan nie. Die foto wat by die Barrage geneem is, gee ‘n beeld van hoe erg die probleem reeds is.
Naas die bedreiging wat die indringerplant vir die Vaal se vislewe inhou, kan dit ‘n enorme uitwerking op toerisme aktiwiteite op die Vaalrivier hê. Op die langeduur sal dit pompe verstop, en skade aan toerusting vir boere veroorsaak wat water uit die rivier pomp. Dit kan ook uitdagings bring vir munisipale watersuiweringsaanlegte soos by Parys en Vredefort waar water direk uit die rivier onttrek word.
Een van die plante kan tot vyf lote uitstoot wat beteken dat die plante elke drie weke kan vervyfdubbel.
AfriForum en ander rolspelers gaan Saterdag, 3 Februarie in Vanderbijlpark en Sasolburg ‘n tweede skoonmaakaksie hou om van die waterslaai uit die Vaalrivier te verwyder. Spesifieke verwyderingspunte sal geïdentifiseer word. Indien vrywilligers met bote bereid is om hul bote in te span en te help met die verwydering, sal dit waardeer word.
Die aksies behels om die waterslaai na verskeie punte te stoot waar dit dan uitgehaal sal word. Indien jy by die skoonmaakaksies betrokke wil raak, skakel Jaco Grobbelaar by 066 565 8108, of Laurel Young by 082 883 705.