Local newsNews

Kom leer die kuns van wa-oortrek

As jy die gratis geleentheid wil bywoon, bevestig by 082 965 7002.

Hier is vir nou jou ‘n lekker uitdaging! Kom leer hoe om ‘n ossewa-seil oor te trek Saterdag 24 Februarie vanaf 09:00 by die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys langs die Vaal Eden-pad. Jaco Jansen van Canvas Clinic sal jou touwys maak en dit heeltemal gratis.

Die FAK het in 2022 die ossewaens vanaf die ossewa-kamp by Clarens na Udolpho geskuif. Sedertdien is die ossewaens wat eintlik transportwaens was, ‘n gewilde en unieke akkommodasiefasiliteit op Udolpho.

Om ‘n wa oor te trek kos R12 500 en word die eerste van die vyftien waens Saterdag met die waterdigte skeurstop seil oorgetrek.

Mettertyd sal al 15 ossewaens oorgetrek word soos wat fondse beskikbaar is.
Die nuwe seile sal die ossewaens meer winddig maak en sal dit ook beter kan toemaak en sluit. Boonop sal jy die ‘vensters’ van binne die ossewa kan oopmaak.

Daar sal ‘n snoepie Saterdagoggend op Udolpho beskikbaar wees.
Kom leer en kuier saam met die gemeenskap inset projek, en wie weet dalk kom dié vaardigheid jou nog elders handig te pas.

As jy die gratis geleentheid wil bywoon, bevestig by 082 965 7002.

Die ossewa-kamp storie:
Ollie Esplin, wat die ossewa-kamp op Clarens bedryf het, vertel dat die kampstorie oorspronklik by sy skoonpa, Gerhard Wille, begin het. Hy was ‘n veteraan trekkerversamelaar wat soos wat hy rondgegaan het op plase, ossewaens aangekoop het waar hy ook al een sou teëkom.

In die laat tagtigerjare het hy op sy wildsplaas en saaiboerdery op die plaas Hoekfontein in die Ficksburg-distrik, begin om agt van die waens wat hy oor tyd bymekaar gemaak het, in ‘n laer te trek en te verhuur as akkommodasie. In die waens wat eintlik transportwaens is, kan tussen vier en agt persone slaap, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa.”

Die waens het letterlik van oor die land gekom – een van hulle is een van net drie wat dateer uit die 1800’s wat nog bestaan, nadat meeste ossewaens tydens die Anglo Boere-oorlog aan die brand gesteek is.

Die res van die waens dateer meestal uit die vroeë 1900’s en word die waens in die kamp ook gelys in ‘n boek van prof. Erik Holm.

Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.

Die ossewa-kamp by Ficksburg was destyds so gewild dat Wille se skoonseun, Olie, wat ‘n avontuur toerisme onderneming in Clarens bedryf, in 2006/7 ‘n soortgelyke kamp daar begin het met agt waens. Toe Wille se plaas verkoop is, is die laaste waens ook na Clarens geskuif. Wille is in 2021 aan kanker oorlede. Hy was ‘n man wat ‘n passie gehad het vir die toerismebedryf en wat bekend was vir sy besondere gasvryheid.

Oor die jare was die ossewa-kamp by Clarens eweneens baie gewild, veral onder skoolgroepe en kampeerders.

Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp wat akkommodasiegeriewe bied en boonop ’n unieke kampervaring weens die historiese waarde daarvan. Vir kampeerders bied dit ‘n belewenis van in die natuur-wees met net die nodigste geriewe en maak jy hier kos in die veldkombuis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button