Local newsNews

Reën nou bitter nodig

Boere wat vroeg geplant het, het nog hoop, maar vir boere wat eers later geplant het, is dit net die reën wat oeste kan red.

Parys het in totaal vir Februarie net 70mm reën gehad na ‘n buitengewoon nat jaar in 2023.

Boere met wie Gazette die afgelope week gepraat het, het gesê dat die week  ‘n draaipunt sal wees as reën nie gou val nie. Reën van minstens 40-50 mm is kritiek nodig. Vir gewasse soos mielies, soja, sorghum en sonneblom loop die tyd uit. Die sorghum is in die aar. Sonneblomme blom. Mielies staan vol in saad, maar as dit nie reën nie, brand bestuiwing dood in temperature van 35 grade en hoër. Pitvulling gebeur nie. “Hulle voete moet nou in die water wees.”

Hoewel daar kleiner dele is wat reën gehad het, verwag baie boere ondergemiddelde of geen oeste weens die droogte en buitengewoon hoë temperature.

Boere wat vroeg geplant het, het nog hoop, maar vir boere wat eers later geplant het, is dit net die reën wat oeste kan red.

Dit is ook nie net die droogte en hitte wat boere bekommer nie. Daar is die brandgevaar met die veld wat baie droog is en die winter wat voorlê. Daar is droë winde en blitse, maar nie ‘n druppel reën nie.

Selfs vir veeboere kan die winter problematies wees met weiding, sê Barry Coetzee wat ‘n gemengde boerdery in die Vredefort-distrik bedryf.

Graan SA het oor die naweek gesê hy is baie bekommerd oor die impak van die droogte en mark omstandighede op graanprodusente. Die uiterste hitte en droë toestande veroorsaak dat die oes baie vinniger versleg as wat aanvanklik verwag is. “Ons het groot gebiede gesien waar die skade reeds onomkeerbaar is,” sê Tobias Doyer, Graan SA se hoof uitvoerende beampte.

Hy sê hulle het selfs besproeiingsmielies gesien wat ook uitdagings ervaar weens beurtkrag, asook die hittetoestande.

“Die wintergraan produksieseisoen het eweneens vroeër uitdagings gehad met oormatige reën in sekere dele wat verliese in opbrengste tot gevolg gehad het, en finansiële druk op produsente in dié areas plaas.”Hierdie uitdagings word ervaar in ‘n tyd waar marges op gewasse soos mielies, reeds laag is weens internasionale voorrade en internasionale prysdruk.

“Dit maak die hersteltydperk van die individuele produsente baie moeilik in uitdagende produksie omstandighede,” sê Graan SA.

“Die Nasionale Oesskatting se eerste skatting wat einde Februarie gepubliseer is, gaan belangrik wees om die nasionale toestand te evalueer, maar die realiteit is dat daar tans verskeie individuele produsente is wat wesenlike verliese in die gesig staar weens die droogte en markte”, sê Derek Mathews, voorsitter van Graan SA en produsent in een van die areas wat wesenlike uitdagings ervaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button