Local newsNews

Vredefort wateraanleg in haglike toestand

Die Departement Waterwese is ook van die situasie in kennis gestel, en sê rdl. De Jager dat die departement ingelig is oor die DA se versoek dat mense water eerder kook voor gebruik.

Water by Vredefort se suiweringsaanleg is Maandag, 18 Maart steeds sonder chloordosering aan dié dorp se inwoners gelewer. So sê DA-raadslid Saal de Jager wat ook ‘n lid van die Ngwathe-stadsraad se staande komitee oor Infrastruktuur is. Hy het Maandag ‘n oorsigbesoek aan die Vredefort-aanleg gebring, en sê dié situasie is bo en behalwe dat die dorp se inwoners al vir maande soos in Parys, onder ernstige watertekorte gebuk gaan met te min water wat vir Vredefort en die Mokwallo-woonbuurt gesuiwer word.
Hy het na afloop van sy besoek gesê Vredefort se watersuiweringsaanleg is in ‘n haglike toestand. Toe hy Maandag by die aanleg was, was twee van die besinkingsdamme bykans heeltemal tot bo gevul met afsaksels (sludge).

Een van die dorp se inwoners met wie Gazette gepraat het onder voorwaarde van anonimiteit, het gesê dat sy teen Dinsdag reeds nege dae al sonder water is. “Dit is baie frustrerend. Oorkant my is ‘n skool. Hoe kan daar verwag word dat hierdie kinders geriewe op die skoolgrond gebruik as daar nie water is nie.”

In 2022 het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit miljoene spandeer vir ‘n onbevoegde kontrakteur wat die wateraanleg moes vernuwe en verbeter. Ten spyte daarvan word daar steeds nie genoeg water vir die dorp gesuiwer nie, en water wat wel gesuiwer word is dikwels van swak gehalte omdat die operateurs soms nie al die nodige prosesse kan uitvoer nie, het rdl. De Jager Maandag gesê.
“Dit het verlede week weer begin gebeur nadat die operateurs se chemiese reinigers opgeraak het.” Hy sê sommige inwoners ontvang nou ‘hierdie half-gesuiwerde water” in hul krane, sonder enige waarskuwing. In plaas van ‘n publieke waarskuwing het senior amptenare bloot daaroor aanhou swyg, sê hy.

“Dis onprofessioneel, selfs gevaarlik, dat inwoners en raadslede nie onmiddellik daaroor gewaarsku is nie,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. Hy kla dat raadslede verlede week, en tot nou toe, nie antwoorde kry nie: “Slegs ‘n onbeholpe geskarrel, met daelange en onverklaarbare swye.” Die DA het inwoners van Vredefort Maandag gemaan om die water wat hul wel uit hul krane kry, te kook voordat hulle dit drink of daarmee kosmaak.

Die Departement Waterwese is ook van die situasie in kennis gestel, en sê rdl. De Jager dat die departement ingelig is oor die DA se versoek dat mense water eerder kook voor gebruik.

Gazette het navraag oor die tekort aan chloor by die Ngwathe Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale gedoen. Hy het onderneem om antwoorde van die Ngwathe munisipaliteit se waterbestuurder, mnr. Phele, te kry. ‘n Verklaring was nog nie teen Gazette se druktyd ontvang nie, maar sal geplaas word sodra dit ontvang word.

Rdl. De Jager se oproepe na die munisipale bestuurder, die waterbestuurder en die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester is nie beantwoord nie.

Ook in Parys is die waternood desperaat. Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het Vrydag gesê die ‘tydelike’ verminderde watervoorsiening in Parys is die gevolg van die opknapping en herstel van die dorp se watersuiweringsaanleg wat tans gedoen word. Sy het toe gesê dat net twee van die vyf besinkingsdamme by die aanleg funksioneer, en dat net 1,6 megaliter water per dag gepomp kan word – die laagste sedert November 2023.
Sy het gesê dat die kontrakteur tans besig is om besinkingsdamme 3 en 4 skoon te maak. Sandmedium vir die filters is egter nog nie vervang nie.

‘n Besinkingsdam wat leeggemaak word om die opdrifsels (sludge) te verwyder. Die proses neem gemiddeld 1-2 dae

Vir nou word die sandfilters uitgeskakel in die suiweringsproses totdat die sandmedium vervang is as tydelike maatreël om verligting te bring vir die ernstige watertekort wat Parys, Tumahole en Schonkenville ervaar, het rdl. De Jager gesê.

Hy sê hoewel die kontrakteur goeie werk doen, word die herstelproses by die suiweringsaanleg in Parys opgehou deur onnodige rondslomp deur die Ngwathe munisipaliteit.

Hyself word sedert Vrydag nie toegelaat om die suiweringsaanleg te besoek nie, terwyl van hom verwag word om in sy hoedanigheid as lid van die raad se Infrastruktuurkomitee, oorsigbesoeke aan onder meer die suiweringsaanleg te bring, sê hy

“Omdat die munisipaliteit in gebreke bly om met inwoners tydig te kommunikeer oor diensleweringsprobleme veral krag- en waterkwessies, is dit nodig dat raadslede ingelig moet wees omdat hulle inwoners se vrae moet beantwoord,” voeg hy by.

Gazette het verlede week ook berig oor die ernstige tekortkominge in Ngwathe se elektriese departement weens ‘n tekort aan materiaal en personeel. Gevolglik wag inwoners dikwels vir dae dat kragprobleme uitgesorteer word wat binne ure herstel kon word. Selfs kleppe in die waternetwerk word dikwels vergeet om weer oop te draai wanneer gewerk is aan pyplekke. Die knaende watertekorte in Parys veroorsaak dat pype in die waternetwerk dikwels lang tye leeg is, wat dan beteken dat wanneer water wel deurkom, vuilheid in die pype saam met die water vloei.

Gevolglik kry inwoners ‘vuil’ water uit hul krane, al is die water wat die aanleg verlaat, skoon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button