Goedheid sonder grense vir Hartshuis se mense
Enige hulp om die watertenks by die Hartshuis vol te hou sal baie help

Mense se goedheid het die afgelope week geen grense geken toe daar by die Hartshuis in Vredefort vir water geboor is. Die Hartshuis bied ‘n heenkome vir haweloses en hulle wat van ‘n SASSA-pensioen afhanklik is. Omdat Vredefort gereeld waterprobleme ondervind, moet die Hartshuis daagliks water aanry om seker te maak daar word vir drinkwater en water vir huishoudelike gebruik voorsien.
Daar is wel watertenks op die Hartshuis-perseel wat in tye van nood volgemaak kan word, maar die groep weldoeners wat betrokke was by die uitreik na die Hartshuis wou dié las verlig met ‘n boorgat op die Hartshuis-perseel. Geologiese aanwysings het ‘n maand gelede aangedui dat daar sterk ondergrondse water op die Hartshuis-perseel is.
Die eienaar van H2O het kosteloos sy tyd en arbeid beskikbaar gestel en tot op 75 m geboor, maar die gat was droog. ‘n Tweede gat, geborg deur ‘n anonieme skenker, is daarna tot op 40 m geboor. Ongelukkig was ook dié gat droog.

Ten spyte daarvan is daar groot dankbaarheid vir dié mooi gebaar van mense se omgee om ander te help, het Zuanne-Marie van der Merwe van die Hartshuis gesê.



