Dié sentrum is hul veilige tuiste
Hul grootste wens vir hul verjaardag - dat mense sal uitreik na die sentrum om ook hier 'n verskil te maak vir hulle vir wie die sentrum huis is

Vir baie van hulle is dit die enigste huis wat hul ken. ‘n Tuiste waar hul veilig en geliefd voel. Soos een familie deel die 54 inwoners van die Epilepsie-sentrum in Parys hier in mekaar se lief en leed. “Hulle kruip bitter vinnig in jou hart in,” vertel Yolandi van Rooyen, waarnemende assistent-direkteur van die sentrum.
Die sentrum is vir baie jare ‘n deel van Parys. Die afgelope maande is hier onder leiding van die sentrum-direkteur, Solly Mokgata, en die raad onder voorsitterskap van Angelique Kleynhans, hard gewerk om ‘n verskil te maak sodat daar in elke behoefte van die inwoners na wie 24 uur, sewe dae per week omgesien word, voorsien kan word.
Die groentetonnels is onder hande geneem om selfvoorsienend te wees vir die sentrumkombuis waar daar daagliks drie voedsame maaltye vir die inwoners berei word.

Daar is planne om maandeliks ‘n ope-dag vir die publiek by die groentetonnels te hou sodat daar interaksie met die inwoners kan wees.

Opgeleide mediese personeel kyk na die gesondheid van die inwoners.

Die tuin is mooigemaak, en daar is begin om stelselmatig opknappingswerk en die nodige herstelwerk in die woonstelle van die inwoners te doen.

Links is Yolandi van Rooyen, waarnemende assistent-direkteur van die sentrum, saam met van die sentrum inwoners in een van die woonstelle wat al opgeknap is.
Dit is ‘n tydsame proses, want eers moes behoorlike evaluering van die sentrum se behoeftes gedoen word, aksieplanne in plek gestel word, somme gemaak word, en uiteindelik kon daar begin word met die spreekwoordelike ‘huisskoonmaak’.
Ons het hard gewerk om stabiliteit hier te kry en die regte vaardighede op die regte plekke aan te wend, vertel Yolandi. “Dit is soos ‘n kar se enjin wat uitgehaal en oorgedoen is, en nou werk hy beter as ooit tevore.” Daar moet na al die geboue se instandhouding gekyk word. Hiervoor is fondse en skenkings nodig.

Dalk het jy byvoorbeeld verf, kwaste of verfrollers wat rondlê wat jy aan die sentrum wil skenk. Selfs matrasse, kantgordyne, meubels waarvoor jy nie meer nut het nie, of enigiets anders wat jy wil skenk vir die inwoners se woonstelle. Kompos, kunsmis of ‘n stuk skadunet is welkom vir die groentetuin, en daar is ‘n venster by die siekeboeg wat dringend herstel moet word.
As jy ‘n geldelike bydrae wil maak kan jy die volgende bankbesonderhede gebruik: Epilepsy SA, Absa Parys, takkode 632005, rekeningnommer 1130720427, verwysing: Donasie.
Daar is die afgelope week feesgevier by die sentrum met Rosa, een van die sentrum inwoners, sowel as die sentrumdirekteur, Solly Mokgata, en Angelique Kleynhans, voorsitter van die raad, wat verjaar het. Hul grootste wens vir hul verjaardag – dat mense sal uitreik na die sentrum om ook hier ‘n verskil te maak vir hulle vir wie die sentrum huis is