Speel saam met die FAK Jeugsimfonie-orkes in Vredefort
Boonop kan jy ook deel wees van dié konsertuitvoering.

Die FAK (Federasie van die Afrikaanse Kultuurvereniginge) het in Oktober 2022 ‘n nuwe jeugsimfonieorkes gestig om oorspronklike orkesmusiek onder die jeug te bevorder.
Vrydag, 28 Junie om 18:30 kry inwoners van Vredefort en besoekers aan die Vrystaatse dorp die geleentheid om dié orkes met sy uitnemende standaard van ensemble-spel en musikaliteit te hoor wanneer hulle in Vredefort se pragtige NG Kerk optree.
Boonop kan jy ook deel wees van dié konsertuitvoering.
Plaaslike musici sal in een werk saam met die orkes speel. Die orkesdirigent, Jaco van Staden, het die bekende Sarie Marais spesiaal vir hierdie gemeenskapsitem verwerk met eenvoudige partye sodat selfs beginners kan saamspeel en in die musiekvreugde kan deel.
Daar is partye vir elke instrument van die simfonieorkes.

As jy wil saamspeel, kontak Erna by 082 565 1085 vir die bladmusiek. Erna sal ook gedurende die Junie-vakansie ‘n oefening reël vir almal wat wil saamspeel.
Kaartjies vir die Vredefort konsert kos R120 per volwassene en R80 per kind.



