Local newsNews

Nuwe voëlspesies by Inlandsee gesien

Al wat jy nodig het vir die uitstappie, is jou piekniekmandjie, verkyker en 'n stoel.

Vir enige voëlkyker sal ‘n besoek aan Inlandsee goed beloon. Feathers voëlklublede het gedurende April hier 32 voëlspesies aangeteken.

Inlandsee is suid van Parys tussen die N1 en Vredefort. Dit lê in die middel van die Vredefort Koepel. Wanneer dit baie reën vul die Inlandsee-pan met water en kom daar talle voëls, soos flaminke, daar woon.

Die totale aantal spesies wat nou reeds vir Inlandsee en omgewing aangeteken is, staan op 90. Met Feathers se laaste besoek is onder meer ‘n hele paar grootflaminke, die geelborsstrandkiewiet, en die rooikoplewerik gesien. Daar is ook ‘n paar spesies, wat nog nie voorheen daar gekry is nie, aangeteken.

Feathers-klublede kuier weer saam op Donderdag, 23 Mei. Hansie Bekker sal dan gesels oor “Vakansie hou en voëltjies kyk in 2023”. Dit vind soos gewoonlik om 18:30 by Sally Martin Park se saal plaas.

Die winter is vinnig op pad, en Mei se voëlkyk-uitstappie is die laaste amptelike een voor die winter. In Junie en Julie sal daar nie uitstappies wees nie, maar byeenkomste gaan normaalweg voort.

Op Saterdag, 25 Mei besoek Feathers River Lake, waar Peter en Poppie Killian onlangs 31 voëlspesies aangeteken het. River Lake is 29 kilometer op die R500 en die pad na Lindequesdrift. Voëlkykers wat wil saamgaan, vertrek om 06:40 vanaf Riastuine. Dit is sowat 1 km na die brug op die Fochville-pad.

Alle belangstellendes is welkom om die twee geleenthede by te woon
Al wat jy nodig het vir die uitstappie, is jou piekniekmandjie, verkyker en ‘n stoel. Dit is langs die rivier en anti-gogga muti sal van nut wees.

Vir meer inligting oor Feathers of die byeenkomste, skakel vir Hansie Bekker by 082 820 4306, of Peter Killian by 083 625 8100.

Related Articles

Back to top button