Local newsNews

Koerier-slenter: Soveel kan R16,45 jou kos

Kuberboewe is uitgeslape en ken elke skuiwergat.

Kuberboewe gebruik selfs die naam van bekende koeriers om niksvermoedende slagoffers te besteel.

Die afgelope week was ‘n 82-jarige bejaarde van Parys die slagoffer van die gewentelose swendelaars wat RAM Couriers se naam gebruik het met die boodskap dat ‘n pakkie op pad is, maar ‘n bybetaling van R16,45 nodig is voordat die pakkie afgelewer kan word.

Die niksvermoedende slagoffer was inderdaad die dag ‘n pakkie van ‘n koerier te wagte met chroniese medikasie wat van Pretoria af gestuur sou word.

Gevolglik is die bedrag wat gevra is met ‘n kaart betaal. Minute later is nog ‘n transaksie van meer as R400 van Uber Eats op die kaart deur, en daarna weer ‘n groot bedrag, ook van Uber Eats.

Gelukkig het die bejaarde slagoffer dadelik besef dat hierdie kuberbedrog is, en blitsig die kaartlimiet op aanlyn-aankope verlaag na R50.

Was dit nie daarvoor nie, het die kuberboewe selfs meer geld onttrek, Nog vyf bedrae is deur die bank geweier toe die kuberboewe aanhou probeer het om geld uit die rekening te onttrek, maar weens die verlaagde limiet nie kon slaag nie.

By die bank gekom is die kaart vervang, maar is die slagoffer die geld kwyt. Die regte koerier het wel later die dag die medikasie afgelewer en soos vorige maande, was daar geen bybetaling nie.

Was dit nie vir die pakkie waarvoor daar inderdaad gewag is nie, het die bejaarde dalk nooit in die kuberboewe se strik getrap nie.

As jy dink dit kan nie met jou gebeur nie – vra maar rond hoeveel mense daagliks deur internet swendelaars gevang word.

RAM is nie die enigste koerier diens wie se naam al deur kuberboewe in slenters gebruik is nie. Mense het ook al geld verloor met ‘n slenter waarin die poskantoor te naam gebruik is.

Wanneer jy ‘n boodskap sou kry, maak seker dat dit wel van die koerier maatskappy of diensverskaffer kom deur hulle te skakel, voordat jy op enige skakel ‘click’ wat vir jou gestuur sou word.

Gaan na die maatskappy se amptelike webtuiste om pakkies wat afgelewer moet word na te spoor, voordat jy op enige boodskap reageer wat vir jou gestuur word. As jy eers die skakel gevolg het wat deur swendelaars met ‘n SMS, epos of WhatsApp boodskap gestuur is, is dit reeds té laat.

Kuberboewe is uitgeslape en ken elke skuiwergat. Daarom kan jy nie blindelings jou inligting vir enigeen gee nie, nog minder ‘n pinkode vir jou kaart of die eenmalige pinnommer wat na jou selfoon gestuur sou word.

Moet onder geen omstandighede ‘n betaling maak sonder om dubbel seker te maak of dit veilig is nie. Moet ook nooit jou rekening- of kaartbesonderhede vir iemand gee nie. As jy twyfel gaan eerder na jou bank en vra raad voordat jy ‘n transaksie doen waarvoor jy dalk later duur gaan betaal.

Related Articles

Back to top button