Wintertyd is koesterkostyd!
Wanneer die windjie so om die hoeke huis, die voëlbak se water ys en jy liewer snoesig voor die kaggel met ‘n boek wil opkrul, is dit ook die tyd vir koesterkos.

Daardie disse uit die kombuis wat nie net jou binnekant verwarm nie, maar jou ook laat verlang na kleintyd wanneer daar ‘n stomende bord sop op jou gewag het as jy na skool verkluim en honger by die huis gekom het.
As jou smaakkliere nou behoorlik geprikkel is, stel ons voor, gaan loer op Afrikaans.com se Kook dit-afdeling. Daar kry jy beproefde resepte vir elke smaak. Wat ons natuurlik hierdie tyd van die jaar sterk aanbeveel om daardie honger kolletjie te vul, is die heerlike sopresepte.
Kies uit spek-en-aartappelsop, gortsop met worsies en suurroom, maklike mieliesop of die immergewilde dik boontjiesop. Die meeste sop vries ook goed – so jy kan sommer ‘n marathon-kooksessie hou en ekstra maak vir daardie dae wanneer jou tyd min is.
Besoek Afrikaans.com se Kook dit-afdeling vir hierdie resepte en meer. Kook dit – Afrikaans.com (https://afrikaans.com/leerhulp/kook-dit/)
Hier is ‘n voorsmakie van wat jy te wagte kan wees:
Heerlike Spek- en aartappelsop

Dié geurige sop se growwe tekstuur is heerlik en spek en aartappel is altyd ’n goeie kombinasie. Verwyder enige oortollige vet aan die spek en gaan liggies met die soutpot te werk. Aartappels vries nie goed nie, moet dus nie enige oorskietsop vries nie – dis heerlik vir middagete die volgende dag. Dis ’n baie vullende sop, want daar is heelwat stysel, so dis nie nodig om dit met brood voor te sit nie.
Lewer 4 porsies
20 ml (4 t) olyfolie
250 g spek, oortollige vet verwyder en in stukkies gesny
2 uie, gekap
2 preie, in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, gekneus
8 aartappels, geskil en in blokkies gesny
15 ml (1 e) gedroogde gemengde kruie
2 takkies vars roosmaryn
1 lourierblaar
15 ml (1 e) suurlemoensap
250 ml (1 k) hoender- of groenteaftreksel
500 ml (2 k) water
60 ml (¼ k) suurroom of melk
sout en peper na smaak
60 ml (¼ k) grofgekapte vars Italiaanse pietersielie of grasuie
- Verhit die helfte van die olie in ’n groot kastrol en braai die spek tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.
- Verhit die res van die olie oor matige hitte in dieselfde kastrol en soteer die uie, preie en knoffel tot baie sag en goudbruin. Voeg die aartappels, kruie, lourierblaar, suurlemoensap, aftreksel en water by.
- Bring tot kookpunt, stel die hitte laer en sit die deksel op. Prut vir 30-45 minute of tot die aartappels sag is.
- Haal die roosmaryntakkies en lourierblaar uit. Verpulp die sop effens met ’n stokmenger, maar nie tot heeltemal glad nie. Of druk dit fyner met ’n aartappeldrukker.
- Roer die spek en suurroom of melk by en geur na smaak. Verhit tot deurwarm, maar moenie die sop laat kook nie. Roer die pietersielie by en sit dadelik voor met ’n bietjie ekstra olie voor.
Resep uit Maak vyf deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- ’n Kaas soos pecorino of selfs bloukaas sal ook heerlik wees in die sop.
- Vervang die spek met varkworsies. Braai tot gaar, skep uit en sny in dik skywe. Voeg by die sop in stap 5 en verhit tot deurwarm.



