Geen nuwe BKS-gevalle ‘n eerste in maande vir die Vrystaat
Meer as 1,7m beeste in die Vrystaat reeds ge-ent teen Bek-en-klouseer.
Die Vrystaatse Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake het bevestig dat geen nuwe gevalle van bek-en-klouseer die afgelope week in die provinsie aangemeld is nie.
Volgens die departement se jongste syfers wat vandag, 16 Oktober, bekendgemaak is, bly die totale aantal bevestigde gevalle op 804, waarvan 776 suksesvol afgehandel is. Die oorblywende 28 gevalle is steeds aktief en onder kwarantyn.
Bek-en-klouseer was tot dusver in 19 plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat bevestig. Dit sluit in:
- Kroonstad (Moqhaka-munisipaliteit): 127 gevalle
- Heilbron (Ngwathe-munisipaliteit): 98 gevalle
- Sasolburg (Metsimaholo-munisipaliteit): 64 gevalle
- Frankfort (Mafube-munisipaliteit): 81 gevalle
- Bethlehem (Dihlabeng- en Nketoana-munisipaliteite): 75 gevalle
- Warden (Phumelela-munisipaliteit): 46 gevalle
- QwaQwa (Maluti-a-Phofung-munisipaliteit): 29 gevalle
- Welkom (Matjhabeng- en Nala-munisipaliteite): 55 gevalle
- Ladybrand (Mantsopa- en Setsoto-munisipaliteite): 46 gevalle
- Smithfield (Mohokare- en Mangaung-munisipaliteite): 23 gevalle
- Fauresmith (Kopanong- en Letsemeng-munisipaliteite): 28 gevalle
- Bloemfontein/Thaba Nchu (Mangaung-metro): 35 gevalle
- Bultfontein (Tswelopele- en Masilonyana-munisipaliteite): 44 gevalle
- Boshof (Tokologo-munisipaliteit): 53 gevalle
Meer as 1,7 miljoen beeste ingeënt
Die departement het ook bevestig dat die nasionale risikogebaseerde inentingstrategie voortgaan.
Altesaam 1 713 747 beeste in die Vrystaat is tot dusver vir die eerste keer met Biogenesis Bago- en Dollvet-entstowwe geënt. Altesaam 14 341 beeste is ook deur boere self geënt, wat die totale aantal ingeënte beeste op 1 728 088 te staan bring.
Die departement het ook herhaal dat inentings volgens die nasionale bek-en-klouseerbeheerstrategie uitgevoer word, met voorkeur aan besmette eiendomme, aangrensende plase, eiendomme wat epidemiologies met gevalle verbind word en ander hoë risiko gebiede wat geïdentifiseer is.

Boere aangemoedig om aansoeke in te dien
Aansoeke om inenting bly oop, en die departement ontvang steeds talle versoeke. Nie alle aansoeke kan egter tydens die aanvanklike fases van die inentingsprogram hanteer word nie, weens beperkte beskikbaarheid van entstowwe en die noodsaaklikheid om hoë risiko gebiede voorkeur te gee, het die departement verduidelik.
Boere is egter aangemoedig om voort te gaan om aansoeke in te dien, aangesien hierdie inligting die departement help om toekomstige entstoftoekennings en inentingsveldtogte te beplan.
Daar sal ook voortgaan word om siekteverspreiding te monitor en beheermaatreëls toe te pas om verdere verspreiding van bek-en-klouseer in die Vrystaat te beperk, het.
Aansoeke vir enting
Die departement het tot dusver 193 kennisgewings van boere ontvang wat aangedui het dat hulle van voorneme is om hul beeste teen bek-en-klouseer (BKS) in te ent.
Volgens die departement is die kennisgewings deur die Nasionale BKS-verslagdoeningstelsel ingedien.
Die Kroonstad-staatsveeartsenykundige gebied, wat onder die Moqhaka-munisipaliteit val, het die meeste kennisgewings aangeteken, naamlik 62. Dit is gevolg deur die Ladybrand-staatsveeartsenykundige gebied, wat die Mantsopa- en Setsoto-munisipaliteite insluit, met 21 kennisgewings.
Die Heilbron-staatsveeartsenykundige gebied, wat die Ngwathe-munisipaliteit insluit, het 16 kennisgewings aangeteken.



