
Chaos het vroeër vanmiddag, Sondag 7 Julie om 15:20 by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein uitgebreek na ‘n brand buite die pediatriese saal ontstaan het en toe na die eerste en tweede vloere van die hospitaal versprei het.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid sê dit is op hierdie stadium nog nie seker wat die brand veroorsaak het nie. Mvambi sê rook het dwarsdeur die hospitaal versprei en is die hospitaal se noodplan geaktiveer om pasiënte en personeel inderhaas uit die hospitaal te ontruim.


Die Manguang Metro Brand en Noodreddingsdienste en ander staat en private Nood Mediese Dienste het gehelp om die 83 pasiënte in sale na veiligheid te neem. Drie en twintig pasiënte is oorgeplaas na die Botshabelo Distrikshospitaal en 50 pasiënte is tydelik na die Gateway kliniek geneem vanwaar hulle na die Universitas Akademiese Hospitaal, Pelenomi Tersiêre Hospitaal en MUCPP geneem sou word.


Mvambi het bevestig dat daar geen beserings of sterftes as gevolg van die brand was nie.



