Local newsNews

Dié samewerking vat vee-diefstal in die Vrystaat vas

Sedert die projek 'n jaar gelede begin is, is 76,36% van alle vee wat in die provinsie gesteel is, herwin,

‘n Projek deur Vrystaat Landbou (VL) waarmee hande gevat is met die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag, om veediefstal in die Vrystaat aan te spreek, werp nie net vrugte af nie, maar is die plan om dié projek uit te brei oor die hele provinsie waar die behoefte is.
Sedert die projek ‘n jaar gelede begin is, is 76,36% van alle vee wat in die provinsie gesteel is, herwin, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko analis by Vrystaat Landbou.

Dr Jane Buys

As die sukses in randwaarde omgesit word, beteken dit dat van die R15,5 miljoen se vee wat die afgelope jaar in die Vrystaat gesteel is in die sake, ‘n verstommende R11,29 miljoen se vee herwin is, met ‘n 100% sukses op bykans 55% van herwinnings.

Saam met die polisie het die sowat 8 private ondersoekers in diens van Vrystaat Landbou, 72 verdagtes in 32 sake gearresteer, en op 26 voertuie, waarvan drie sleepwaens was, beslag gelê.

In die Parys-distrik is daar twee weke gelede bewys hoe suksesvol die samewerking is toe 67 skape almal lewend herwin is kort nadat die skape op 28 Junie uit gemeenskapskrale langs die R59 naby Parys se vliegveld gesteel is.

Dr. Buys verduidelik dat die projek voortgespruit het uit ‘n inisiatief van VL in samewerking met Parys Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV).
Met sowat 200 boere-unies en boereverenigings wat by Vrystaat Landbou geaffilieer is, is die uiteindelike doel om die boeregemeenskap veilig te hou en hul volhoubaarheid te verseker, sê sy.

Van die 88 dorpe in die Vrystaat het minstens 44 dorpe ‘n hoë veediefstalsyfer, en is dit daarom nodig dat iemand naby is om so gou moontlik by ‘n veediefstaltoneel te kom, en ook te help met die bewaring van veediefstaltonele en die insameling van bewysstukke, die monitering van toegangsroetes, en voorkomingsaksies.

VL het in April 2024 addisioneel 13 privaat ondersoekers opgelei en bemagtig op versoek van boere-gemeenskappe wat gebuk gaan onder veediefstal. Die private ondersoekers in diens van Vrystaat Landbou is deur PSiRA geregistreer en werk hand-aan-hand met die polisie en alle veiligheidsrolspelers, asook die Nasionale Vervolgingsgesag, om te verseker dat veediefstalsake met die nodige bewysstukke suksesvol in howe aangehoor kan word.

Tans is daar nie net van die private ondersoekers in die Fezile Dabi distrik nie, maar ook in ander distrikte van die Vrystaat soos Ladybrand, Fouriesburg en Ficksburg. Die behoefte aan die private ondersoekers is veral groot in die Thabo Mofutsanyana-distrik waar tussen 40% en 47% van veediefstalsake in die provinsie, aangemeld word.

Vrystaat Landbou ondersteun die private ondersoekers met opleiding,bemagtiging, logistieke en administratiewe bystand, asook veiligheidstoerusting, maar die noue samewerking met die polisie is die sukses-faktor van die projek, sê dr. Buys.

Met die aanvanklike beginpunt van die projek in Julie 2023 is daar op die hoogste vlak met die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag gekonsulteer.

Namate die projek uitbrei sal kostemodelle op die tafel gesit moet word om te kyk hoe die projek deur Vrystaat Landbou se lede gefinansier kan word op ‘n volhoubare basis.

Die realiteit is dat daar slegs 11 veediefstaleenhede in die Vrystaat is, wat beteken dat dié eenhede nie genoeg mannekrag of doelmatige voertuie het om die wye bedieningsgebied wat aan hul toegewys is, effektief te kan bedien nie.

Vir jare word gevra dat werkstudies gedoen moet word om die leemtes aan te spreek. Die samewerkingsinisiatief wat deur Vrystaat Landbou met die private veediefstal ondersoekers geneem is, het egter gewys hoe suksesvol daar teen veediefstal opgetree kan word, en hoe nodig samewerking tussen strukture is, sê dr. Buys.

Die aanvanklike termyn van die projek het einde Junie verstryk, maar sal voortgesit word solank daar befondsing is, het dr Buys gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button