
Die spreekwoordelike ‘lang arm van die gereg’ het nog heelwat oë en ore in Vredefort, bygekry.
Toe ‘n vlaag van kabeldiefstal die afgelope twee maande die dorp getref het, is die publiek se hulp gevra om inligting deur te gee as vermoed word dat kabels gesteel word. Sedertdien staan kabeldiewe nie ‘n kat se kans teen sekuriteitsmaatskappye en Jan en San Alleman se wakker oë en ore, asook die blitsige WhatsApp fluitjieblasers nie.
Heelwat inligting is al gekry van die publiek, waarop die polisie dadelik gereageer het. Dit het daartoe gelei dat nog ‘n kabeldief verlede week sy rieme hier styf geloop het. Sowat drie weke gelede is twee vermeende kabeldiewe van Pretoria in Vredefort gevang.
Die polisie sê dankie aan die publiek en sekuriteitsmaatskappye vir die samewerking om te help om dié misdaad vas te vat.



