Inwoners boos oor boomreus
"Ons kan Parys nie indink sonder sy bome nie," sê du Plessis.
Inwoners van die Vrystaatse dorp, Parys, het verlede week met groot ontsteltenis gereageer toe ‘n ou bloekomboom op die hoek van Father Balink- en Kerkstraat geskend en bykans vernietig is.
Die gebou-eienaar by dié kruising waar die boom staan, het by navraag van Gazette gesê dat die boom gesnoei is omdat die takke te laag gehang het en daarom ‘n gevaar was. Nog ‘n boom agter in die perseel reg langs Doves & Saffas is ook weens dieselfde rede gesnoei.
Die boomherrie het egter weer die aandag gevestig op die waarde van bome in ‘n omgewing wat dikwels misken word.
Verskeie soorte bloekombome is oor die jare uit Australië na Suid-Afrika gebring, vertel Flip du Plessis ‘n plaaslike boomkenner wat die afgelope 30 jaar betrokke is by die identifisering van bome by onder meer die Phalaborwa-hek in die Kruger Wildtuin, Swadini, die ATKV se Eiland-oord, en Tshipise waar talle bome geïdentifiseer en naamplaatjies gekry het.
“Ek het onder bloekombome grootgeword in die Clanwilliam-distrik aan die voet van die Sederberge,” vertel hy. Dié boom met sy donker bas by hierdie kruising is besonders, sê hy verder.
Uit die bome wat van Australië na Suid-Afrika gebring is, is met verloop van tyd minstens 30 verskillende seleksies gemaak wat gesien kan word in Sappi se boomargief in die plantasies by Kaapsehoop in Mpumalanga.
“Die mens en ‘n boom loop van die begin van die skepping af saam. Die grootste waarde van ‘n boom is die suurstof wat hulle voorsien. Daarom kan met reg gesê word dat ‘n boom die mens, sy tuin, sy plaas, sy veld, sy dorp, sy land en sy wêreld se grootste bate is. Ons kan Parys nie indink sonder sy bome nie,” sê du Plessis.
“Kyk maar op ‘n warm somersdag hoe kry die parkeerplek met ‘n boom se koelte voorkeur. Dink aan die dorp se voëls hoe afhanklik hulle is van bome se vrugte en plek om hul neste te bou,” verduidelik du Plessis.
Hy sê die medisinale waarde van bome moet ook nie onderskat word nie.
“Trouens bome en medisyne is so sinoniem vir die mens se bestaan dat daar in sekere tale soos Sotho een woord vir beide bome en medisyne is, naamlik mohlare,” voer hy aan.
“Daarby kom nog die waarde van bome as habitat vir menigte organismes en diere. Dit is bekend dat sekere bome en insekte as simbiose saamleef. Die boom gee vir die insekte noodsaaklike proteïne in die vorm van vrugte wat op die grond val, en dan bring insekte weer vir die boom kosbare minerale van diep onder die grond na boontoe.”
“Ek dink ook aan die waarde van die lowergroen bome en helderkleurige blomme in die lente en somer wat ons strate versier,” vertel du Plessis
Du Plessis sê Father Balinkstraat (vroeër bekend as Kruisstraat) is een van die dorp se ouer strate, en sien jy hoër op in dié straat ‘n pragtige laning Olienhoutbome.
So is daar ook die pragtige akkerbome in die dorp.
Hy gesels oor die tragiese gebeure toe Frederick Cornelius Pistorius se perde in 1921 van pure skrik van die treinstasie deur die dorp koers gekies het na sy plaas by Groot Eiland toe ‘n trein waarskynlik stoom afgeblaas het.
Met die jaagtog het die perdekar omgeslaan by die kruising van Breë- en Kruisstraat (nou Father Balink), en is Pistorius dood in die ongeluk. ‘n Tragiese gebeurtenis waarvan dié ou boomreus sou kon vertel as hy maar net kon praat.
Pistorius was ‘n bekende man en een van Parys se stigters.