Klasaksie oorweeg vir krag- en waterstryd
Talle inwoners het by die vergadering vertel hoe die dorp se water- en kragprobleme hulle raak.

‘n Klasaksie mag dalk die antwoord wees op Parysenaars se frustrasie met krag- en waterprobleme. Dit is een van die voorstelle wat Maandag op die tafel gesit is deur adv. Chantelle Reynolds, ook ‘n inwoner van Parys, tydens ‘n openbare vergadering wat deur die VF Plus geïnisieer is.
Sy het verduidelik dat ‘n klasaksie tussen ‘n jaar en drie jaar kan sloer, maar dat die sukses lê in mense met ‘n gemeenskaplike belang wat saamkom om op te staan vir hul grondwetlike reg. Reynolds het benadruk dat die dorp aan sy inwoners behoort, en die grondwet daar is om mense te beskerm. Sy het ook gesê dat daar met inwoners kontak gemaak sal word oor so ‘n aksie.
Talle inwoners het by die vergadering vertel hoe die dorp se water- en kragprobleme hulle raak. Philip Kruger sê hy het in die afgelope 10 maande reeds 40 klagtes oor watervoorsiening by die Ngwathe munisipale kantore gerapporteer – sonder sukses. Inwoners sê hulle is keelvol en praat help nie. Hulle soek antwoorde.
Eiendomswaardes verminder as gevolg van swak dienslewering, paaie is in ‘n haglike toestand, die water is ondrinkbaar en rioolvuil loop sporadies in die Vaalrivier in. Hulle sê hulle weier om langer marionette te wees in die hand van die munisipaliteit wat besluit wanneer hulle mag water en krag hê.
Die VF Plus se Tammy Breedt (VF Plus LP in die Nasionale Raad van Provinsies) en Armand Cloete (VF Plus LPW in die Vrystaat en voorsitter van die Portefeuljekomitee vir Cogta) wat die vergadering gelei het, het genoem dat Parys se water- en kragprobleme nie uniek is nie, maar regoor die land gesien word.
“Gemeenskappe bloei oor swak dienslewering.” Daar is verduidelik dat meer as 30 jaar se gebrek aan instandhouding van die waternetwerk, een van die groot redes is waarom daar bykans daagliks pypbarste en lekke gesien word. Sewe kontrakteurs kon oor die afgelope jare ook nie by die dorp se watersuiweringswerke ‘n verskil maak aan die gebrekkige watervoorsiening nie. Breedt het verduidelik dat Ngwathe se enorme skuldlas aan Eskom beteken dat die kragvoorsiener nie ‘n tweede transformator by sy substasie in die dorp sal koppel, voordat Ngwathe nie sy kragnetwerk opgradeer het nie. Die vorige kwotasie van meer as R60m het reeds verval.
Breedt sê daar is tot op die hoogste vlak skrywes deur die party gerig oor Parys se diensleweringsprobleme, en is die versekering gegee dat voortgegaan sal word om te baklei vir beter dienslewering.
Daar was by die vergadering lof van Breedt en die gemeenskap vir raadslid Marinda Matthysen-Engelbrecht se volgehoue betrokkenheid om diensleweringskwessies te rapporteer en te sien dat dit opgelos word. Terselfdertyd is ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om betrokke te raak, en gesê dat stemdag die beste manier is om jou vertroue of wantroue in munispale bestuur te wys.
Petisies, mosies van wantroue en munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is, het al bewys nie suksesvol te wees nie, maar was daar eensgesindheid dat klasaksie tesame met dit wat deur die onderskeie partye gedoen word, en ‘n gemeenskap wat saamstaan, die rigting is wat gevolg moet word.



