‘Olifantmisspesialis’ in die Koepel gesien
Ten spyte van hul belangrike rol, is daar groot afnames in insekbevolkings wêreldwyd, deels weens klimaatverandering.
Die Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied met sy besondere natuurprag mag jou dalk net verras met insekspesies wat hier buite hul ‘normale’ verspreiding gesien word. Een so ‘n spesie is die Oniticellus egregious – wat insekkenner Hennie de Klerk tydens sy besoek aan Morala in die hart van die Koepel, met sy geoefende oog vir die eerste keer hier raakgesien het.
Dié miskruierspesie is ‘n olifantmisspesialis maar kan ook in zebramis oorleef, vertel Hennie.
Dit kom voor noord van die Magaliesberg, in die Kruger wildtuin, en in die noorde van Natal. Daarom is dit ietwat van ‘n verrassing om dit hier rond te kry, sê Hennie.
Hennie is ‘n metallurg van beroep wat die afgelope 40 jaar baie tyd in die veld spandeer het om voëls te ring en plante en diere, maar veral voëls en insekte te bestudeer, en te fotografeer.
Mettertyd het dié belangstelling ontwikkel in ‘n voltydse beroep sedert sy aftrede ‘n paar jaar gelede.
Hennie was die spreker by ‘n interaktiewe praatjie oor insekte wat by Kiepersol aangebied is vir Koepel Bewarea-lede en belangstellendes
Insekte speel ‘n groot rol in ekosisteme, het hy verduidelik. Hulle is die belangrikste komponent van dierediversiteit in alle terrestriële ekosisteme. ‘n Verstommende 70% van inheemse plante (en gewasse) word deur insekte (meestal bye) bestuif. Sewentig persent van mis wat in natuurlike en agro-ekosisteme geproduseer word, word deur miskruiers begrawe – letterlik duisende ton per dag in Afrika.
Ophopings van dooie plantmateriaal van gras tot hout van oorblyfsels van groot bome word begrawe en deur termiete ontbind.
Insekbevolkings (insluitend plae) word in toom gehou deur parasitiese en roofinsekspesies.
Honderde spesies diere (selfs sommige plante) voed net op insekte. So is nagenoeg 60% van voëls afhanklik van insekte.
Ten spyte van hul belangrike rol, is daar groot afnames in insekbevolkings wêreldwyd, deels weens klimaatverandering.
Hennie het naas die rol wat insekte in die natuur speel, ook gesels oor hoe insekte hulself beskerm.
As ons ons insekspesies verloor, verloor ons nie net ‘n deel van die mooi van die natuur nie, maar ook die wetenskaplike waarde van insekte, en ‘n belangrike deel van die natuurlike siklus, het hy gesê.
Hy het mense aangemoedig om foto’s te neem in die natuur, en hoewel makrofotografie-tegnieke ‘n spesialisonderwerp is, en mense meestal nie toegang het tot gespesialiseerde toerusting nie, is sy voorstel dat mense foto’s sal neem van plante en diere, al is dit met ‘n selfoon, en dit dan op die toepassing iNaturalist laai.
Die toepassing is gratis en kan jou deur middel van foto-identifikasie-tegnologie help om die plante en diere in jou omgewing te identifiseer.
Volgens dr Biddie Biddulph, voorsitter van die Koepel Bewarea is die Bewarea besig om te kyk hoe hulle die Vredefort Koepel se unieke fauna en flora kan dokumenteer en publiseer. Dit sal ook die Koepel se unieke insekspesies insluit.
* De Klerk is die mede-outeur van die boek Biology, ecological importance and diversity of Southern African Insects.
Dit was ‘n heerlike gesellige aand by Kiepersol saam met lede van die Koepel Bewarea.