Local newsNews

Pakhuise verwoes

Skade groot na brandverwoesting

Van die pakhuise by die Emfuleni Business Park in Parys se nywerheidsgebied is Dinsdag in ‘n verwoestende brand in puin gelê. Die oorsaak van die brand sal deur forensiese ondersoeke bepaal moet word.

Terwyl mense verslae in Schochetstraat die omvang van die verwoesting aanskou het, het werkers en vrywilligers uit die gemeenskap saam met Thinus Jacobs wat met sy private brandweervoertuig hulp verleen het, gehelp om te verhoed dat die brand na die aangrensende perseel sou versprei met kantore en ‘n stoor waar landbou chemikalieë geberg word.

 

Die brand het binne oomblikke die pakhuise in puin gelê.

‘n Noodboodskap is minute na 11:00 op die Vryheidsfront Plus se WhatsApp-groep geplaas en toe ook na ander noodgroepe versprei, nadat daar nie by ‘n landlynnommer geslaag kon word om die brandweer te kontak nie.

Volgens Nico Maree, een van die direkteure van Anke Products, wat bekend is vir hul gegeurde lugverfrissers en ander produkte, het die brand binne minute van ‘n aangrensende pakhuis waar dit vermoedelik ontstaan het, na die twee pakhuise wat deur hulle gehuur word, versprei. Albei hul pakhuise was vol voorraad vir besendings wat Woensdag per koerier uitgestuur sou word.
“Hoewel die skade groot is, het Anke Products ander pakhuise wat steeds kliënte sal kan diens,” het Nico gesê.

Hy het sy dank uitgespreek teenoor Thinus en vrywilligers vir die hulp wat verleen is, en gesê dat inwoners nie kan staatmaak op die munisipale brandweerdiens nie. “Dit is ‘n tragedie wat wag om te gebeur,” het hy gesê. Die onvermoë van die Ngwathe brandweer- en nooddiens in Parys om hulp te verleen by veral stukturele brande is al vir jare ‘n bekommernis.

Die brandweerdiens het 15 opgeleide personeellede in Parys, maar net vier vuurvegters wat wel doeltreffend is vir die bestryding van grasbrande, maar nie strukturele brande nie. Daar is ook nie voldoende toerusting beskikbaar nie.

Hoewel die brandweer op die toneel was, kon geen hulp verleen word nie, en was daar nie water by die brandkrane beskikbaar nie.
Daar was veral kommer oor die gebrek aan beheer van die toneel om mense se veiligheid te verseker.

Weens die brandweer se tekortkominge help vrywilligers gereeld op brandtonele.

Die Disaster Management Act maak voorsiening vir vrywilligerspanne ook vir die brandweer, en is daar in die verlede gesprekke oor die nodigheid van ‘n gestruktureerde vrywilligerspan gevoer wat met die hulp van die private sektor die brandweerdiens kan ondersteun. Hiervan het egter nog niks gekom nie.

Ongelukkig kan ook nie net op vrywilligerhulp gesteun word nie, en is dit nodig dat ramp- en noodbestuur prioriteit sal kry by die toekenning van fondse.

In 2023 is met die nabetragting van ‘n botsing simulasie-oefening wat in Oktober 2022 gedoen is om die reaksietyd en gereedheidsgrondslag van Parys se nooddienste te toets, ook bevind dat die reaksietyd en beheer van die toneel ondoeltreffend was.

Ngwathe se munisipale bestuurder het bevestig dat hy ‘n verslag oor die brand Woensdagoggend verwag. Dit is bevestig dat die landlynnommer van die brandweer wat geskakel is om die brand te rapporteer, vir ‘n geruime tyd nie meer gebruik word nie, en is gesê dat die nommers wat tans gebruik word, vroeër aan die gemeenskap deurgegee is.

Skakel die Brandweer by:
067 424 2372
082 909 3464

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button