Local newsNews

Weg met ons yskaste en ons geld

As jy nie 'n ding gesien het nie, moenie dit koop nie. As jy nie aan 'n ding kan vat om seker te maak dis eg nie - moenie dit koop nie. Koop niks aanlyn tensy dit op 'n betroubare webtuiste is, of jy dubbel seker gemaak het jy kan die verkoper of koper vertrou.

Meedoënlose, skelm ‘bliksems’. Dit is hoe Pieter en Erna Rademan die aanlyn skurk beskryf wat hulle  met gladde bek en mooi praatjies duisende rande gekos het vir die yskaste wat hulle verkoop het, maar nooit die geld gesien het nie. Ergste is – hulle is nie die enigste nie. Aanlyn skurke vang daagliks mense by die duisende, maar word nie self gevang nie, want die name, adresse, telefoonnommers en selfs ID-kaarte wat gebruik is vals. Maar dit kom jy agter wanneer meneer die swendelaar lankal weg is met jou geld en jou goed.

Ons mense se grootste probleem is ons vertrou té maklik, sê Erna. Daarvan kan nog ‘n vrou van Parys getuig wat verlede week ‘n bloutjie geloop het met looprame wat aanlyn geadverteer was. Nodeloos om te sê die geld vir die looprame is betaal, maar geen loopraam in sig om daarvoor te wys nie.

Kyk maar hoeveel goed word op Facebook en ander platforms geadverteer, en wie sal nou nie val vir ‘n ‘bargain’ nie – selfs skurke weet dit.
Maar waarsku Erna – jy kan vandag niemand vertrou nie – ‘nie eens die spreekwoordelike blonde engel met ‘n rok tot onder haar ken nie.’
Die egpaar het vantevore twee motors suksesvol aanlyn verkoop. Daar was geen rede om te dink dat die aanlyn verkoop van die vertoonyskaste nie ook suksesvol sou wees nie.

Skaars was die advertensie geplaas op Facebook, toe is daar ‘n koper.

“Ons het hom gesien,” vertel Erna. ‘n ‘Professionele’ man wat selfs vanuit sy ‘kantoor’ met ‘n video-oproep met hulle gepraat het.
Hy het die geld elektronies oorbetaal en ‘n SMS van die bank gestuur om die betaling te bevestig.

Die yskaste moes net afgelaai word by die adres, wat die Rademans se drywer toe gedoen het. Die kommunikasie was professioneel. Alles volgens die boek. Geen rede om te twyfel nie.

Maar toe die yskaste afgelewer is, was dit die laaste woord van die skurk.

Die geld het nooit in hul rekening gewys nie. Die nommer waarvan die ‘koper’ geskakel het, was byna onmiddellik na die aflewering nie meer in werking nie, en ‘n polisie-ondersoek het bevestig dat die yskaste ‘n uur nadat dit afgelaai is, geskuif is van die adres wat gegee is.

Selfs op die ander items wat die Rademans geadverteer het, het swendelaars sonder uitsondering op elkeen van die advertensies gereageer.
Jy kan maar kyk – dié skurke gebruik nie hul eie foto op hul WhatsApp of Facebook-profiel nie, waarsku Erna. Dit is altyd ‘n foto van ‘n dier of voorwerp maar nie ‘n gesigfoto nie. Dikwels is daar ook ‘n derde persoon betrokke. Iemand wat die goedere of kontant by jou sal kry, want dié skurk sien jy selde self.

As daar eers gevra word vir betalings met allerlei verskonings waarom jy nou moet betaal,, moet jy maar weet – katvoet loop hier.
As jy eers begin moeilik raak en ID-bewyse vra, sloer met die betaling of nie wil maak soos die skurk wil hê nie, droog die kommunikasie skielik op.

By verlede week se Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) vergadering is ook gewys op die geweldige omvang van internetbedrog in die land.

Die polisie het weer gewaarsku dat mense veral moet kyk na die waarde van goed wat geadverteer word. As die waarde baie laer is as wat die markwaarde is moet jy sommer weet, dit is geen ‘bargain’ – jy gaan ‘n kat in die sak koop.

As jy nie ‘n ding gesien het nie, moenie dit koop nie. As jy nie aan ‘n ding kan vat om seker te maak dis eg nie – moenie dit koop nie.
Koop niks aanlyn tensy dit op ‘n betroubare webtuiste is, of jy dubbel seker gemaak het jy kan die verkoper of koper vertrou.

Moenie vreemde nommers op jou selfoon antwoord nie, en moet allermins vir mense persoonlike inligting oor die foon gee.

Loop lig vir selfoondiensverskaffers wat jou kwansuis ‘n aanbieding wil gee omm jou selfoonpakket aanlyn te verander of te verhoog.

Jy kan geen banktransaksie oor die foon doen, of eenmalige sekerheidspinnommer (OTP) oor die foon vir iemand gee nie. Nie eens as die operateur sê hul skakel van die bank en sien daar is ongemagtigde transaksies op jou rekening nie. Sit die foon neer, klim in jou kar en gaan self bank toe, want voor jy weet is jou selfoon of bankrekening gekaap en sit jy sonder ‘n pennie.

Loop lig vir buitelandse nommers en skakels wat per sms of WhatsApp na jou gestuur sou word. Moenie daarop klik nie. Dit is die sekerste manier om jou te vang met internet bedrog slenters.

Selfs die ID-fotos wat banke het van kliënte, het al gewys stem nie altyd ooreen met die identiteitsrekords by binnelandse sake nie. Moet daarom nie eens ‘n foto van ‘n ID kaart vertrou wat vir jou gestuur word nie.

As jy geskakel word en gevra word dat geld wat verkeerdelik in jou rekening inbetaal is, terugbetaal moet word, kom onmiddellilk by jou bank en rapporteer dit.

Swendelaars gebruik dikwels selfoonnommers sodat jy ‘n e-beursie (E-Wallet) betaling kan maak. Sodra jy betaal het, bestaan die nommer ook nie meer nie en kan die skurke nie vasgetrek word nie.

Onthou – geld wat jy vrywillig oorbetaal het aan iemand, of goed wat jy gegee het voordat die betaling in jou rekening reflekteer is jou verlies want jy het vrywillig en met jou medewete so reg in die skurke se hand gespeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button