Dorp sal baat by vleiland rehabilitering
Vleilande in Suid-Afrika beslaan 2.4% van die land se oppervlakte, maar 48% van vleiland ekosisteem-tipes is kritiek bedreig. Gevolglik het die land ongeveer 50% van sy oorspronklike vleilandgebied verloor.
‘n Inisiatief om die verwaarloosde natuurlike vleiland-gebied in die middel van Parys te rehabiliteer, om die onderbenutte gebied te omskep in ‘n volhoubare vleiland-ekosisteem wat toeganklik en veilig sal wees vir alle gemeenskappe, is reeds besig om te realiseer. Daar word beoog om die eerste fase van die projek binne die volgende jaar te voltooi.
Die vleiland bied ‘n enorme toerisme-potensiaal met landloop- en fietsryroetes wat hier ontwikkel word. Die area sal ook deur skole as bewarings en opvoedkundige terrein benut kan word.
Die vleiland-area strek vanaf Tumahole tot onder by die Mimosa Tuine. “Die area begin by ‘n natuurlike varswater fontein aan die agterkant van die Viva-vulstasie in Parys se nywerheidsgebied,” vertel Leida Schuman, een van die vrywilligers betrokke by die projek. Sy verduidelik dat die vleiland ook ‘n hoof voetgangerroete is vir mense wat daagliks tussen Tumahole, Schonkenville en Parys beweeg. Dit verbind skole, die nywerheidsgebied van Parys en woongebiede. Dié area is oor jare besoedel deur mense wat bou en huishoudelike rommel hier stort, indringer plantspesies soos katbos, en riool en ander afvalstortings in die Mimosa-spruit.
Dr. Mothamaha, munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het reeds die munisipaliteit se ondersteuning vir die projek gegee, en het vandeesweek tydens ‘n vergadering met die projekbestuurskomitee-lede, opnuut die munisipaliteit se verbintenis bevestig om alle hulpbronne waar en soos nodig vir die projek beskikbaar te stel.
Die voordele wat die projek vir die voorkoms van die dorp, eiendomswaarde, bewaring en veiligheid sal inhou, is opnuut beklemtoon tydens die vergadering.
Dr. Mothamaha het die visie vir die betrokkenheid van skole en werkskepping in die plaaslike gemeenskap geloof, en sy wens uitgespreek dat die projek volhoubaar moet wees met samewerking tussen die private sektor en die munisipaliteit.

Regs word die eerste fase aangedui waar met rehabilitering van die vleiland begin sal word.
Hoekom die nodigheid om vleilande te bewaar?
Vleilande in Suid-Afrika beslaan 2.4% van die land se oppervlakte, maar 48% van vleiland ekosisteem-tipes is kritiek bedreig. Gevolglik het die land ongeveer 50% van sy oorspronklike vleilandgebied verloor.
Wat word beplan:
* ‘n Veilige, skoon en mooi voetgangerroete vir werkers, skoliere en mense wat graag stap vir oefening/tyd in die natuur deurbring.
* ‘n Area waar alle skole kan deelneem aan landloop en bergfietsry byeenkomste.
* Verbetering in biodiversiteit van die omgewing.
* Werkskepping deur fondse te bekom vir die skoonmaak, ontwikkeling en instandhouding van die gebied, en organisering van herwinningsinisiatiewe deur die bestaande netwerk van rommelsorteerders.
* Geleentheid vir skole om bykomende aktiwiteite rondom omgewingsbewaring aan te bied.
* Skep van ‘n natuurlike parkarea wat toeganklik is vir almal.
Die projek sal nie die vleiland-omgewing soos dit tans is versteur of verander nie, maar benut en bewaar. Daar is reeds voelers uitgesteek om die vleiland gebied professioneel te karteer en as bewaringsgebied te klassifiseer.
Vyftig vaderlandswilg en 50 kareebome is ook reeds deur die Departement van Ekonomiese en Klein Sake Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake vir die projek bewillig.
Die grootte en ligging van die vleiland maak rehabilitering in fases moontlik. Aanvanklik sal die boonste deel van die vleiland (Endstraat langs die nuwe skoolgebou in Vierdelaan, en onder tot langs die Primêre Skool Parys se sportgronde) gerehabiliteer word – ‘n area van 20ha. Daarna sal gefokus word op die besoedelde gebied langs Noorderstraat, agter die Sasol-vulstasie verby, en uiteindelik ook waar die spruit verby Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes sentrum loop en onder by die Mimosa Tuine in die Vaalrivier inlvloei.

Die gedagte vir die projek het begin by ‘n paar sport en natuurentoesiaste wat besef het dat die vleiland potensiaal het. Hulle het die bal aan die rol gesit en bekwame persone uitgenooi om saam te werk om te kyk hoe dié area met sy ryk biodiversiteit tot sy reg kan kom, vertel Leida. “Tans moet jy ry as jy in die natuur wil gaan stap of fietsry. Hierdie is reg in die middel van ons dorp.” Die gedagte is om private en korporatiewe befondsing vir die projek te kry. Die fondse sal deur MooiParys as nie-winsgewende organisasie bestuur word.
Landloop- en fietsry-roetes:
Daar is reeds begin met die merk van 5km, 2km, 1km en 1,5km roetes wat deur landlopers en bergfietsryers gebruik kan word. Die beginpunt sal op die h/v Endstraat en Vierdelaan wees waar parkering vir deelnemers beskikbaar is. Daar word beplan om die eerste twee ontwikkelings landloop liga- byeenkomste in April 2025 daar te hou.

Natuurlike fontein
Die natuurlike fontein waar die vleiland begin is sover bekend deur die gemeenskap gebruik as waterbron toe die gebied vroeër jare nog vir boerdery-aktiwiteite gebruik is, voor die ontwikkeling van die dorp se nywerheidsgebied. Vandag gebruik inwoners steeds die fontein as waterbron. Water van die fontein vloei verby die sportvelde van Parys se laerskool, agter verby die Sasol vulstasie, en sluit aan by die Vaalrivier in Mimosa Tuine. Waar die fonteinwater kristalhelder en drinkbaar is, versamel dit oor ‘n afstand van minder as 3km riool en ander skadelike stowwe, wat uiteindelik bydra tot die besoedeling van die Vaalrivier!



