Hulp gekry vir lang lys uitstaande kragklagtes
Daar is steeds talle kragklagtes in Parys en die Schonkenville en Tumahole woonbuurte waaraan die tegniese span moet aandag gee.
Dr. Mothamaha, munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het pas bevestig dat nog ‘n ‘cherry picker’ gehuur is tot die einde van die week om te help met die lang lys kragprobleme in Parys, Tumahole en Schonkenville waaronder die dorp steier weens gure weer wat groot skade in die dorp aan veral die kragnetwerk veroorsaak het.
Na Donderdag se hael en reënstorm, het nog swaar reën en wind oor die naweek verdere skade veroorsaak en herstelwerk bemoeilik.
Met net een ‘cherry picker’ beskikbaar om aan al die klagtes aandag te gee, was dit ‘n bykans onbegonne taak om kragtoevoer by al die adresse te herstel.
Dr. Mothamaha het aan Gazette gesê dat benewens die ‘cherry picker’ wat gehuur is, ‘n nuwe ‘cherry picker’ wat Ngwathe vroeër gekoop het, ook teen die einde van die week verwag word.
Teen laatmidag was daar steeds minstens 21 kragklagtes in Parys waaraan aandag gegee moes word, en vele klagtes ook in die Tumahole en Schonkenville woongebiede waarby uitgekom moes word.
Sommige inwoners was teen vanmiddag al vir meer as 90 ure sonder krag.
Die munispaliteit het in Oktober ook ‘n nuwe laaigraaf in ontvangs geneem om dienslewering te verbeter.