Kranse bring kersvreugde vir bejaardes
As jy inspirasie of idees kort vir 'n kerskrans - kan jy kom saamkuier by die Parys Kuns- en Kuiergroep wanneer hulle hul kranse gaan maak om die projek te ondersteun.
Om ‘n kerskrans te maak is eenvoudig en heerlik kreatief. Boonop kan jou kreatiwiteit help om Kersfees vir bejaardes in jou gemeenskap vanjaar ekstra spesiaal te maak.
Met die Kranse vir Kersfees-projek word handgemaakte kerskranse ingesamel deur Ons Tuis. Die kranse wat geskenk word, word dan oor die Feesseisoen verkoop vir die fondsinsamelingsprojek waarby die Amot-tehuis ook sal baat.
As jy inspirasie of idees kort vir ‘n kerskrans – kan jy kom saamkuier by die Parys Kuns- en Kuiergroep wanneer hulle hul kranse gaan maak om die projek te ondersteun. Dié saamkuier is nie net salf vir die siel nie, maar ook die ideale geleentheid om die vreugde van Kersfees met ander te deel.
Die groep het die afgelope naweek geleer hoe maklik en mooi kersversierings gemaak kan word met wat jy in jou huis het. Daar is pragtige sterre vir die Kersboom of Kerstafel gemaak van wasgoedpennetjies. Polistireen balle is kunstig versier met materiaal, afval stukkies kant of selfs doilies om unieke en besondere Kersballe te maak.
Selfs leë glashouers is met ‘n bietjie verf met ‘n sponstegniek en stensils versier sodat kersliggies in dié mooi houers geplaas kan word.
Gesels met Teresa Wessels by 082 872 6372 as jy saam met die groep die kransprojek wil ondersteun, of laai jou kerskrans by Amot-tehuis in Tweedelaan af voor 20 Desember.