Gemeenskap en parkrunners maak harte oop vir kinders, gesinne in nood
Dankie vir elke oop hart wat vanoggend die Empathy Walk in Parys ondersteun het.
‘n Mamma en pappa bekommer oor drie of vier kinders waarvoor hulle moet sorg. Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) is bekommerd oor die 34 gesinne waarvoor daar gesorg word en soveel ander nood in ‘n gemeenskap.
Dit is vir hierdie nood waarvoor die harte van parkrunners van sover as Durban, Nigel en Bloemfontein, en mense van die Parys-gemeenskap vanoggend oop was toe nie-bederfbare voedsel, klere, skoene en vele ander donasies gegee is vir die Empathy Walk ten bate van VVA. ‘n Dag waarmee ‘n verskil gemaak is vir hulle wat minder het, en die huis van veiligheid wat VVA beoog om in Januarie in Parys te open vir verwaarloosde en mishandelde kinders wat noodgewonge uit ouerhuise verwyder moet word.
Die Empathy Walk is deur Parys Gazette in samewerking met parkrun en met die ondersteuning van Parys Multisport aangebied en het saamgeval met die weeklikse Egweni River Lodge parkrun. Altesaam 69 parkrunners het kom aantree vir die pragtige 5km roete om ook so ‘n verskil vir ander te maak.
Die gedagte met die Empathy Walk was om ook kinders van jongs te leer, om werklik begrip te hê vir iemand anders se situasie, en dit wat hulle voel en beleef, want wie van ons weet werklik hoe dit voel om in ‘n ander se skoene te loop?
In haar boodskap het Sanette Boonzaier van VVA gesê dat meer as 30 kinders reeds vanjaar uit ouerhuise in die Parys-gemeenskap verwyder moes word weens verwaarlosing of mishandeling.
Kinders waarvan die ouderdomme wissel van skaars twee uur oud tot 13 jaar. Negentig persent van hierdie kinders kom uit huise waar daar dwelmverslawing is, en wat blootgestel was aan erge verwaarlosing en mishandeling.
Om vir hierdie kinders te kan voorsien met ‘n huis van veiligheid waar hul geplaas kan word totdat hulle na hul ouerhuise of familie kan terugkeer of oorgeplaas kan word na ‘n Jeugsorgsentrum, is ‘n droom waaraan die VVA in Parys al vir meer as ‘n jaar werk. Om hierdie huis van veiligheid te kan open en die deure oop te hou sodat daar in al die behoeftes van hierdie kinders wat hier geplaas word, voorsien kan word, is die ondersteuning van ‘n gemeenskap egter nodig.
“Dit wat jy in jou huishouding nodig het gaan ons in die veiligheidshuis nodig hê. Ons het wonderlike donateurs en mense wat ons help, maar enigiets is welkom. Daar is stapelbedjies en yskaste nodig vir die huis van veiligheid, en ‘n lang lys van ander items. Niks wat vir die VVA geskenk word, word weggegooi nie. Versprei asseblief die woord en help om hierdie droom te bewaarheid,” het Sanette gesê.
Naas die gesinne vir wie daar op ‘n gereelde basis kospakke voorsien word, is daar bejaardes in nood na wie uitgereik word.
Nood word net al groter. Van Maart tot einde Oktober het die VVA 11 144 mense kos gegee by sy sopkombuis, terwyl daar met die vorige finansiële jaar in totaal 15 000 etes by die sopkombuis voorsien is.
Die VVA het die Sakpas Winkel in Middelstraat waar jy klere waarvoor jy nie meer nut het nie, kan afgee, wat weer teen minimale koste verkoop word om so formule melk en babadoeke te kan koop vir die kinders na wie die VVA omsien, en ook vir hul medisyne en doktersbesoeke waar nodig, te kan betaal.
As jy dus nog klere het waarvoor jy nie nut het nie en dalk nie vanoggend kon afgee nie, gee dit af by die Sakpas Winkel of by die VVA se kantoor in Buitenstraat.
Nie-bederfbare produkte, skoonmaakmiddelle en toiletware kan ook by VVA afgegee word of gereël word dat skenkings gehaal word.
‘n Groot dankie vir wat vanoggend reeds gedoen is.
‘n Oggend wat nie net ‘n verskil gemaak het nie, maar waar vele mylpale bereik is.
Dit was die eerste Empathy Walk vir Parys wat voortaan ‘n jaarlikse instelling sal wees, en is ons bevoorreg dat Parys gekies is om dié inisiatief wat ook in Potchefstroom en Vanderbijlpark gehou sal word, eerste hier te kon aanbied, het Belinda Ströh, parkrun director gesê.
Vanoggend was daar boonop byna dubbel soveel parkrunners as gewoonlik op ‘n Saterdagoggend in Parys en ‘n rekordgetal vrywilligers wat gehelp het om die 157ste parkrun te kon aanbied.
Daar was parkrun-nuwelinge soos Willem en Jacoba en hul kinders Shante en Severio wat as nuwe intrekkers hul eerste parkrun kom doen het, en ook met die geleentheid hul kinders wou leer om na ander uit te reik. “Ons is self in die bediening en help waar ons kan,” het die egpaar gesê.
Ander mylpale:
- Ferdinand van der Westhuize het nie-amptelik sy 300ste parkrun gedoen en help ook gereeld as parkrun vrywilliger.
- Die blinde Chris Stander, wat die afgelope ses jaar in Parys gevestig is, het vanoggend sy laaste parkrun in Parys gedoen. Hy en sy vrou Marina verhuis na Pretoria, en het ‘n spesiale T-hemp en kaartjie van mede-parkrunners ontvang vir sy deelname en bydrae tot parkrun hier.
- Sunette Conlon het vanoggend ‘n vrywilliger-mylpaal bereik met die 50ste parkrun waar sy gehelp het.
- Lorraine Joubert van Nigel het vertel dat sy volgende week haar windgat status bereik wanneer sy kan sê dat sy 100 verskillende parkruns besoek en aan deelgeneem het, en Parys was nr 99 op haar lys. Sy was saam met haar dogter, Carina Addinall van Durban by die Egweni River Lodge parkrun.
- Edwin Jacquire het al die pad van Bloemfontein gekom om te kom deelneem.
- parkrun self het vanoggend ook ‘n mylpaal bereik met meer as 1 000 000 parkrunners wat of parkrun gestap, gedraf of gehardloop het, of as vrywilliger betrokke was.
‘n Spesiale dankie aan Belinda Ströh en haar parkrun vrywilliger-span wat hierdie groot dag saam met die span van Parys Gazette moontlik gemaak het.
Aan die einde van die dag is ‘n hele bakkie vrag vol goedere wat geskenk is by VVA afgelaai.