Maak so jou medisynekas skoon
'n Badkamer is nie die beste plek om jou medisyne te bêre nie weens die temperatuur en humiditeit in 'n badkamer. Hou altyd net die nodige medisyne in jou medisynekas.
Kaste word dikwels reggepak, maar ‘n medisynekas bly gereeld agterweë. Nou is die ideale tyd om voordat die vakansie begin, jou medisynekas deur te gaan en skoon te maak.
Die belangrikste om te onthou is om nie medisyne wat reeds verval het of nie meer bruikbaar is, in ‘n asblik te gooi nie. Neem dit na jou naaste apteek wat diensverskaffers het wat medikasie en items soos gebruikte spuitnaalde gereeld kom haal en dit veilig vernietig. Boonop kos dit jou niks.

Maak seker dat jy deur al jou medikasie gaan en behalwe vir die vervaldatums op verpakkings, ook kyk na salf en selfs vitamines wat van kleur verander het, ‘n vreemde reuk het, of lyk asof dit reeds kon verval het.
Die vervaldatum op medisyne verpakkings verwys na die ongeopende produk wat veilig is vir gebruik tot op die aangeduide datum. Sodra die verpakking oopgemaak is en medikasie hanteer is, is dit aan lug en besmetting blootgestel en kan dit die vervaldatum beïnvloed. Let veral ook op na medikasie wat in ‘n yskas of in droë omstandighede geberg moet word.
Maak seker alle medisyne is in hul oorspronklike verpakking saam met die voubiljet.
Antibiotika-kursusse moet voltooi word en kan nie gebêre word vir latere gebruik nie, omdat dié medikasie sy doeltreffendheid sal verloor, en vir ‘n spesifieke toestand voorgeskryf was.
‘n Badkamer is nie die beste plek om jou medisyne te bêre nie weens die temperatuur en humiditeit in ‘n badkamer.
Hou altyd net die nodige medisyne in jou medisynekas.



