Vereniging praat oor tuisonderrig en die Bela-wet
Waarna opgelet moet word is die definisie wat die departement aan tuisonderrig gee wat betref ouerbetrokkenheid. Hoewel van tutors gebruik gemaak kan word vir sekere leervelde, is die onderrigtaak primêr op ouers se skouers.

Tuisonderrig word sedert 1996 as wettige onderrig opsie in die Wet op Basiese Onderwys erken. Die ondertekening van die Bela-wetgewing, hoewel nog nie van krag nie, het baie onsekerheid ook in die tuisonderrig-gemeenskap gebring oor aspekte van tuisonderrig wat in die wet vervat is. Van die kommer is oor die praktiese implikasie van vereiste evaluering deur ‘n gekwalifiseerde assessor aan die einde van elke onderwysfase (graad 3, graad 6 en graad 9).
Die wet vereis dat leerders moet voldoen aan die standaarde wat deur die nasionale kurrikulum gestel word.
Ouers moet ook aan die einde van elke onderwysfase aandui of hulle voortgaan met tuisonderrig vir die volgende onderwysfase.
“Wat vas staan is dat tuisonderrig deur die Departement erken word, en dat ouers die reg het om die kurrikulum van keuse te gebruik wanneer kinders tuis onderrig word, solank dit hoofsaaklik die inhoud en vaardighede bevat wat ook in die nasionale kurrikulum vervat word, al is die aanslag anders,” verduidelik Sylvie de Bruyn, voorsitter van die Vrystaat Tuisonderrigvereniging (FSHE).
Ouers kan dus voortgaan om opsies soos die Cambridge-kurrikulum of selfgerigte leer te gebruik, solank dit pas by die kind se ouderdom, graad en ontwikkelingsvlak.
Sy sê die vereniging raai sy lede aan om hulself te vergewis van wat in die Bela-wet staan en seker te maak dat hulle die nodige inligting het om verantwoordelike keuses te maak om aan wetsbepalings te voldoen wanneer die wet uiteindelik in werking tree.
Waarna opgelet moet word is die definisie wat die departement aan tuisonderrig gee wat betref ouerbetrokkenheid. Hoewel van tutors gebruik gemaak kan word vir sekere leervelde, is die onderrigtaak primêr op ouers se skouers.
Belangrike aspekte in die wetgewing sluit in:
Registrasie:
Sodra die Wetsontwerp in die Staatskoerant gepubliseer is, sal ouers 30 dae hê om aansoek te doen vir tuisonderrig registrasie. Dit is belangrik dat alle dokumentasie wat nodig is vir registrasie ingestuur moet word om nie die registrasie te vertraag nie.
In die aansoek moet aangedui word watter studiemateriaal gebruik sal word, en waar byvoorbeeld van tutors gebruik gemaak sal word.Verpligte skoolopleiding: Graad R (die jaar waarin ‘n kind ses jaar oud word), word vir die eerste keer in die wet ingesluit as deel van verpligte onderwys. Leerders is skoolpligtig tot die einde van graad 9 of die jaar waarin hul 15 word (wat ook al eerste kom).
Rekordhouding:
Die wet vereis rekordhouding van tuisonderrig leerders se vordering deur ouers en dat ‘n assesseringsverslag aan die einde van elke fase aan die departement gestuur word.
Aanlynonderrig:
Die BELA-wet spreek nie spesifiek aanlynonderrig aan nie. UMALUSI het bevestig dat ‘n raamwerk vir die registrasie van aanlynskole in die proses is.



