Tupper het gesorg vir brood op die tafel
Vir 77 jaar het Tupper vir baie hul drome bewaarheid en gesorg vir 'n inkomste.
Tupperware wat vir 77 jaar ‘n kleurvolle bekende in baie huishoudings was, se amptelike bedrywighede sal einde Desember ook in Suid-Afrika tot ‘n einde kom. Bevestiging is in ‘n verklaring gegee dat die plaaslike filiaal se lisensie nie hernu word nie. Tupperware Brands het vroeër vanjaar al aansoek om bankrotskapbeskerming gedoen na jare waarin verkope gedaal het.
Maar wie onthou nie die gewilde Tupper-partytjies van die 1950’s en 60’s nie, en die helder kleure van dié lugdigte plastiekhouers wat oor dekades die aandag getrek het? En behoede jou as jy een van jou ma se Tupper deksels of helderkleurige kosblik en bypassende waterbottel sou verloor. Stories oor hoe dié gewilde produknaam oor jare, en steeds vandag die brood op mense se tafels sit en drome vervul het, is daar baie, ook in die klein gemeenskap van Parys.
Vir Juanita Wood het die inkomste uit haar Tupper-verkope ‘n kaartjie na China moontlik gemaak om by haar dogter te gaan kuier. Sy vertel dat sy vier jaar lank Tupper in Parys verkoop het. “Nie net was dit ‘n welkome inkomste nie, maar was dit lekker om ‘n diens aan die gemeenskap te kon lewer,” vertel sy.
Mpho Ngobeni se Tupper-tafel is ‘n bekende gesig wat jou begroet waar sy Maandae tot Saterdae op die dorpsplein voor die stadsaal staan. Haar ma wat in Alexandra woon, verkoop Tupper al die afgelope 20 jaar, gesels sy. Toe Mpho in 2020 as administratiewe beheerbeampte bedank en van Johannesburg na Parys verhuis het, om vir haar en haar dogter ‘n beter lewe hier te kon gee, het sy self begin Tupper verkoop.
“In daardie tyd was daar die uitdagings van die Covid-19 pandemie en inperking, maar mense ken die kwaliteit van Tupper en die produk verkoop homself,” vertel sy. Daarom kon sy ten spyte van die uitdagings steeds vir haar en haar dogter voorsien.
Dit is hul enigste bron van inkomste, en wat die toekoms vir haar inhou, is sy nog nie seker nie, maar solank sy voorraad het, sal sy aanhou verkoop, sê sy.
Vra jy haar oor watter kleure en Tupper-produkte haar kliënte verkies, antwoord sy dadelik dat slaaibakke, kosblikke en waterbottels by verre die meeste verkoop. Mense was mal oor die donkerblou Tupper-produkte en baie het selfs vertel dat hulle weer Tupper sal koop die oomblik as daar nog donkerblou produkte gemaak word. ‘n Groot wenner was toe Tupper-produkte geskik vir die mikrogolf bekendgestel is. Dink maar aan die plastiekhouer spesiaal gemaak om jou rys in te kook, of dié een waarin jy ‘n omelet kan gaarmaak.
“Pensioendae is goeie verkoopsdae,” vertel sy, en Oktober en November was goeie maande vir haar. Wintermaande daarenteen is altyd stiller.
Hoekom Tupper ‘n wenner was, vra jy? “Dit is die kwaliteit, die lewenslange waarborg op die produkte, en agente se advies oor hoe om die produkte te gebruik, wat mense laat terugkom het om nog te koop,” sê Mpho.
Soos sy, het Tupper ook vir die 54-jarige Maggie Matshaya, van Parys hoop gebring toe sy op die ouderdom van 43 jaar ‘n beroerte gehad het. Sy is ‘n gekwalifiseerde onderwyser maar moes weens haar gesondheid wat haar aan ‘n rolstoel vasgekluister het, ophou skoolgee.
As onderwyser het sy al Tupper verkoop, en kon sy toe voltyds daarmee voortgaan. Iets wat sy die afgelope tien jaar in Parys doen. Dit is dié inkomste wat sy uit Tupper verkope maak,wat vir haar en haar twee dogters voorsien.
So kan sy kruideniersware koop, skoolgeld betaal en haar kragrekening betaal, maar deesdae is verkope baie minder, vertel sy.
Haar motor het gebreek en plaas die ekstra vervoerkoste en huur van die winkelspasie agter FNB waar sy al lank haar Tupper verkoop, ekstra druk op haar.
Soos Mpho gaan sy voort met haar verkope solank sy voorraad het, en is ook nog onseker wat die toekoms vir haar inhou.
Sy het al daaraan gedink om dalk ook handsakke en oorbelle te verkoop. Tyd sal moet leer, sê sy. Maar vir nou kry jy haar drie dae in die week hier by haar winkel met die kleurvolle Tupper houers.
Een ding is seker – hou vas aan daardie Tupper in jou kaste, en koop nou terwyl jy nog kan.